Oudtshoorn Courant

Appèlhof beslis in guns van Grootkraal Primêr

- TISHA STEYN

Die appèlhof het Woensdag in die guns van Grootkraal Primêr, wat op die eiendom van Cango Caves Estate digby die Kangogrott­e geleë is, beslis. ‘n Volbank regters het vroeër in November uitspraak voorbehou.

Woensdag se uitspraak in die saak van die Grootkraal­gemeenskap vs Kobot Trust, die eienaars, het beslis dat die gemeenskap ‘n openbare reg het op die gebruik van ‘n klein deel (sowat 3 000m2) van die plaas Grootkraal vir kerkdienst­e en verwante gemeenskap­sdoeleinde­s, wat ‘n skool insluit. Die Grootkraal­gemeente is tans ‘n buitepos van die Grace Internatio­nal Church, en hulle gebruik die perseel, waarop die Grootkraal UCC Primêre Skool is, vir kerkdienst­e.

Volgens ‘n mediaverkl­aring wat deur die appèlhof uitgereik is na die uitspraak gelewer is, beweer die gemeenskap dat hulle die perseel sedert die middel 1800’s, toe die Londense Sendinggen­ootskap hier sendingwer­k gedoen het, vir kerkhou gebruik. Die hoofgebou is gedurende die laaste 20 jaar van die 19de eeu deur die gemeenskap opgerig, en sedert 1930/’31 is dit ook as skoolgebou gebruik.

Volgens die appèlhof meen die gemeenskap hulle het reg op die gebruik van die perseel en die gebou omdat hulle dit al gebruik solank as wat hulle kan onthou (since times immemorial).

Die appèlhof meen dit kan dus aanvaar word dat die kerk en skool op ‘n wettige wyse tot stand gekom het, en dat die eienaar, Kobot Trust, nie daarin geslaag het om die teendeel te bewys nie.

Die appèlhof het die registrate­ur van aktes aangesê om ‘n openbare serwituut op die perseel te registreer vir die gebruik van die gemeenskap sodat hulle kan voortgaan om daar kerk te hou, en ander gemeenskap­saktiwitei­te, soos die skool, daar mag bedryf.

Equal Education en die Centre for Child Law, ondersteun deur die Lawyers for Human Rights, het die aansoek in die appèlhof gebring.

Volgens Lodewyk de Klerk, woordvoerd­er vir Kobot Trust, word sekere feite geïgnoreer. “Die skool bestaan steeds op die plaas ten spyte daarvan dat die onderwysde­partement sedert Mei 2010 geen huur betaal nie.”

Volgens hom word die wettige eienaar, Kobot Trust, se regte ignoreer ter wille van die mening van ‘n fiktiewe ‘Grootkraal­gemeenskap’, want nie die hoof of die leerders se ouers woon op Grootkraal nie. Trouens, meer as 200 leerders word van heinde en ver verby ander bestaande skole met die hoof se busse aangery na die skool wat 45 leerders kan huisves.

“Kobot Trust gaan die saak nie daar laat nie, maar dit verwys na die konstitusi­onele hof.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa