Oudtshoorn Courant

Vyf wonings en kerk brand af

- LIEZL VAN NIEKERK

Vyf huisgesinn­e is minder as maand voor Kersfees dakloos gelaat na hul opslaanhut­te Maandag in die vroeë oggendure afgebrand het.

Die opslaanhut­te was in aangrensen­de erwe in Korhaan- en Fisantlaan.

Nolan Dido, by wie se woning die brand begin het, sê hy vermoed dat iemand sy huis aan die brand gesteek het.

“Op ons erf is twee opslaanhut­te agter in die erf. Ek en my meisie en twee kinders woon in die een en my niggie en ‘n vriendin in die ander. ‘n Man het Sondag gesê hy wil by ons kom slaap, maar ek het vir hom gesê hy kan nie, want my kinders is ook in die huis. My seuntjie is vier en die dogtertjie vier maande. Hy was kwaad toe hy geloop het. ‘n Rukkie later het ek rook geruik en wakker geskrik. Die brand het buite my deur begin. Ek het die mense rondom my begin wakker maak sodat hulle net betyds uit hulle huise kan kom.”

Niemand is in die brand beseer nie. Nellie Tiemie, die eienaar van die ander opslaanhut wat uitgebrand het sê sy en haar bure het ook alles verloor.

“Aan ons kant het drie wonings afgebrand. Ek en my man en vyf kinders, waarvan die jongste vyf jaar oud is, het als verloor. Daar is niks oor nie. Langs ons woon ‘n ma met twee minderjari­ge dogters van 15 en 17 en dan woon daar ‘n jong man van 26 in die laaste hut.

“Ons het maar solank begin opruim, maar almal van ons moet nou begin om meubels bymekaar te maak. Oor minder as ‘n maand is dit Kersfees,” het Tiemie gesê.

Volgens haar was daar op ‘n naburige erf ‘n opslaan kerk, die Geloofstab­ernakel, wat ook tot op die grond afgebrand het.

“Daar was duur instrument­e, stoele gordyne en nog ‘n klomp van die kerk se goed in die struktuur. Mense het Sondae en deur die week vir Skriflesin­g en gebed gekom. Nou is daar niks.”

Sers. Gretchen Micheals, woordvoerd­er van die Oudtshoorn-polisie sê, ‘n navraagdos­sier is geopen.

Volgens Micheals het daar ook ‘n opslaanhut in Xolastraat, Bongolethu afgebrand waar een persoon dood is. “Dié voorval het op 25 November om 00:50 gebeur. ‘n 22-jarige man se verkoolde liggaam is op die toneel gekry. Dit word vermoed dat dit David Arries se liggaam is wat gevind is, maar die liggaam is onherkenba­ar verbrand. Geen gemene spel word vermoed nie,” het sy gesê.

 ??  ?? Die erf in Korhaanlaa­n waar drie opslaanhut­te afgebrand het. Op die erf in die voorgrond het die Geloofskab­ernakelker­k se struktuur gestaan.
Die erf in Korhaanlaa­n waar drie opslaanhut­te afgebrand het. Op die erf in die voorgrond het die Geloofskab­ernakelker­k se struktuur gestaan.
 ?? Foto’s: Liezl van Niekerk ?? Nolan Dido (agter) en ‘n vriend maak die erf waarin twee opslaanhut­te afgebrand het skoon.
Foto’s: Liezl van Niekerk Nolan Dido (agter) en ‘n vriend maak die erf waarin twee opslaanhut­te afgebrand het skoon.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa