Turksvye: ‘n alternatiewe gewas vir die Klein-Karoo
Tydens ‘n onlangse waterberaad, waartydens rolspelers besin het oor alternatiewe waterbronne, is turksvye as alternatiewe gewas vir die Klein-Karoo voorgestel.
Dr. Johan van Zyl, direkteur: Sentrum vir Ontwikkelingsteun by die Universiteit van die Vrystaat, en sy vennoot Clinton Massyn van Rouzyl Konsultasie, het meer inligting verskaf oor die moontlikhede van veral doringlose- of gladdeblaar turksvye.
Die Klein-Karoo is bekend vir lusernproduksie, nie net as voer vir volstruise en vee nie, maar ook vir die oes van hoë graad lusernsaad. Volgens Sunet Vermeulen van die Nasionale Luserntrust het lusernverbouing in die Klein-Karoo egter sedert 2014/’15 met 62% afgeneem.
Volgens Van Zyl is turksvye ‘n geskikte voerplant vir die semi-ariede Klein-Karoo omdat dit met min water kan klaarkom en uiterste hitte kan weerstaan. Turksvye het ook verwerkingsmoontlikhede wat dit nog meer gesog maak omdat waarde toegevoeg kan word.
Die ryp vrug van die turksvy is veral ryk aan Vit A en C en bevat tot 25% van ‘n volwassene se aanbevole daaglikse inname, asook minerale soos kalsium, magnesium en kalium. Die vrugte kan vars geëet word of verwerk word in smoothies, sap of konfyt.
Turksvypitte is ‘n bron van olie wat meer vitamien E as enige ander olie bevat, wat dit baie gesog maak vir die vervaardiging van skoonheidsprodukte. “Turksvypitte bevat 150% meer vitamien E as argan-olie, wat verkry word uit die sade van die arganboom, wat inheems is aan Marokko.”
Die turksvyblaaie bestaan 90% uit water en 10% uit ruvoer, maar bevat nie proteïen wat vir veevoer nodig is nie. “‘n Skaap van 35 kg het 50 g proteïen per dag nodig en dit moet by die gemaalde turksvyblaaie gevoeg word,” sê Van Zyl.
Beeste vreet die heel blaaie, maar vir skape is dit beter om die blare met ‘n hamermeul fyn te kap. “‘n Mens het 100 kg turksvyblare per dag nodig om 25 skape aan die gang te hou, maar die blare moet met hooi aangevul word.”
Dis maklik om ‘n turksvyboord te vestig, en boonop kan dit op grond wat nie geskik is vir ander gewasse nie, geplant word. “’n Boer by Bloemfontein verkoop die blaaie teen R6 stuk,” sê Van Zyl. “Maak ‘n vlak voortjie en plaas die blaaie regop daarin. Gee een keer per week ‘n bietjie water totdat die plant gevat het.”
Turksvyblaaie wat 80 cm uitmekaar in rye van 80 cm uitmekaar geplant word, lewer 4 000 turksvyplante per hektaar. Wanneer die turksvye goed aan die gang is, lewer ‘n digte stand 400 ton/ha. “Selfs al is die opbrengs net 250 ton /ha, lewer dit steeds ‘n groter opbrengs as suikerriet, wat 100 t/ha voer verskaf.” Vanaf die sesde jaar kan sowat 50 ton blaaie en 25 ton vrugte per hektaar per jaar geoes word.
Kontak Johan van Zyl by 083 255 4057 of Clinton Massyn by 083 585 3480 vir meer inligting oor turksvye.
Die ryp vrug van die turksvy is veral ryk aan Vit A en C en bevat tot 25% van ‘n volwassene se aanbevole daaglikse inname, asook minerale soos kalsium,
magnesium en kalium.