Oudtshoorn Courant

18-jarige op plaas vermoor

- LIEZL VAN NIEKERK

Sy het nie verdien om op so ‘n jong ouderdom op so ‘n wrede manier van ons af weggeneem te word nie.

So sê ‘n familielid van die vermoorde Ronel Martins (18) wie se liggaam Sondagmidd­ag in ‘n ou, onbewoonde plaashuis op Middelplaa­s buite De Rust gevind is. Die vermoede is dat sy verwurg en verkrag is. Volgens die familielid, wat verkies om anoniem te bly, woon Martin op die plaas Rietfontei­n buite De Rust en het by familie op Middelplaa­s gaan kuier.

“Sy was glo op pad huis toe en ‘n man het gesê hy sal saam met haar stap. Ons ken hom al baie jare en hy woon ook hier naby ons. Ronel se ma het Saterdag gewag dat sy huis toe kom, maar sy het nooit opgedaag nie. Ons het gedink sy bly seker nog bietjie langer by die familie. Toe sy Sondag nog nie terug was nie, het die familie bekommerd geraak. Die diaken het Sondagmidd­ag vir ons kom sê Ronel is dood. Daar is ook ‘n vermoede dat sy verkrag is. Die mense wat haar gekry het, het gesê haar jean was halfpad uitgetrek en haar skoene het ook eenkant gelê. Ons vermoed dat sy reeds Saterdag vermoor is.”

Ronel se ma, Susan Martins, sê die familie is geweldig ontsteld oor wat gebeur het.

“My kind was ‘n goeie kind. Sy het nie gekuier nie, sy het nie gedrink of gerook nie. Sy het altyd ander mense gehelp en so mooi na ander se kinders omgesien. Nou is sy weg en ons mis haar klaar baie.”

Martin sê die man het Ronel glo verwurg. “Sy het regtig nie verdien om so te gaan nie.”

Kaptein Gert Fourie, stasiebeve­lvoerder van De Rust-polisie, het gesê ‘n man is Maandag in verband met Ronel se moord in hegtenis geneem.

Flip le Grange het Woensdag in die Oudtshoorn-landdrosho­f verskyn. Die saak is na 28 Januarie 2019 vir verdere ondersoek uitgestel.

Ronel word Sondag 23 Desember om 11:00 uit die VGK op Rietvlei begrawe.

 ?? Foto verskaf ?? Ronel Martins wat die afgelope naweek vermoor is.
Foto verskaf Ronel Martins wat die afgelope naweek vermoor is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa