Oudtshoorn Courant

Skerpioenv­anger voel angel van gereg

- MARLENE MALAN

’n Jong Suid-Koreaan is die afgelope week in die Prins Albert-landdrosho­f met ’n boete van R10 000 of twintig maande tronkstraf gevonnis omdat hy sakke vol lewendige goggas in in ’n gastehuis weggesteek het.

R5 000 of tien maande van Jae Woon Jung (23) van Seoel se vonnis is opgeskort op voorwaarde dat hy nie weer dieselfde oortreding binne vyf jaar begaan nie.

Jung is op 4 Januarie in ‘n gastehuis in Prins Albert in hegtenis geneem nadat ’n werker op sakke en houers met 21 skerpioene, twee spinnekopp­e en twee honderdpot­e in sy kamer afgekom het. Sy het die eienaar ingelig, waarna die polisie op die diere beslag gelê het en aan die provinsial­e departemen­t natuurbewa­ring oorhandig het. Hy is aangekla volgens artikel 42(1)(a) van Ordonnansi­e 19/1974, wat die onwettige besit van bedreigde spesies is. Hy het skuldig gepleit op die klag.

Hy het die eerste keer op 7 Januarie in die hof verskyn, maar ‘n prokureur en tolk moes eers vir hom aangestel word. Hy is nie Engels magtig nie. Soobin Park van Kaapstad het vir hom getolk en Vaugh Shone van Coetzee Van der Bergh op Oudtshoorn het vir hom opgetree.

Volgens Jung was hy met vakansie in SuidAfrika, met ’n terugvlugk­aartjie op 22 Januarie. Hy wou die diere saam met hom huis toe neem, het hy deur Park getuig.

Shone het aan Claassen gesê die beskuldigd­e is werkloos, enkellopen­d en het nie kinders nie. Versagtend­e omstandigh­ede is dat hy nie geweet het hy oortree die wet nie. Hy het die hof gevra om dit as ‘n teken van spyt te sien dat sy kliënt skuldig pleit. Hy was, volgens Shone, ook bereid om die R7 000 in sy bankrekeni­ng te onttrek om vir sy skuld te betaal.

Claassen het gesê die spesies wat in Jung se besit gekry is, is eie aan die distrik van Prins Albert. As besoeker aan Suid-Afrika was dit sy plig om eers uit te vind of hy die diere mag vang en of ’n permit nodig is, “selfs al is dit ’n stokperdji­e”. “Die vonnis moet ’n afskrikmid­del wees vir ander mense wat dieselfde probeer doen. Die oortreding is een wat al hoe meer in Suid-Afrika voorkom, maar dis die eerste keer dat dit in Prins Albert gebeur.

Dis ’n gebied met ’n ryk natuurlewe wat eie is aan die Karoo.”

Claassen het ook Jung se rugsak met toerusting, wat ’n tang, notaboek, kaart en forensiese plastieksa­kke insluit, aan die staat verbeurd verklaar. “Dis goed jy is hier vasgetrap. Ek weet nie hoe jy gedink het jy met dié diere jou eie land sou kon binnegaan nie.”

Marvon de Vos het aangekla.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa