Oudtshoorn Courant

Diere met kunsledema­te gehelp

- EUGENE GUNNING

Danksy die passie vir diere en toewyding van ‘n mediese ortotis en prototis van George, kry diere in die Tuinroete nou ‘n tweede kans op ‘n behoorlike lewe.

Dié mediese ortotis en prototis, Danièlla de Jager van Barkley Oates Inc in George help om stutte en kunsledema­te vir diere te maak, net soos vir mense.

Sy het juis onlangs ‘n stut vir ‘n Jack Russell gemaak en dit is verlede week gepas.

De Jager het gesê die bedryf is nog nie baie groot in Suid-Afrika nie en net vier of vyf maatskappy­e doen dit regoor die land. In lande soos Amerika is dit reeds ‘n groot bedryf.

Toe sy met die beroep begin het, het sy dit interessan­t gevind en gehoor dat selfs diere gehelp kan word.

Sy het agtergekom mense besef nie altyd dat daar ander moontlikhe­de is as hul diere beseer is nie. Hulle dink soms die dier moet uitgesit word of die dier se ledemaat soos ‘n poot moet geamputeer word.

By die maatskappy waar sy werk, het die eienaar, Mike Barkley, reeds jare gelede ‘n prostese vir ‘n ooievaar gemaak. Die voël se naam was Piet. Nadat hy die prostese ontvang het, het hy ongelukkig weggevlieg.

Vir haar het alles begin toe ‘n kollega se hond, Dupa ‘n Rottweiler, sy groeiplaat­jie in sy voorpoot seergemaak het. Die besering wou nie herstel nie en die hond se poot sou of geamputeer moes word of hy sou selfs uitgesit moes word.

De Jager het dadelik aan die werk gespring en ‘n stut vir die hond se poot gemaak. Eers is ‘n gipsmodel gemaak en later is die stut van plastiek gemaak.

Die plastiese stut steun die hond se poot as hy loop en dit het die groeiplaat­jie bymekaar gehou. Na twee weke het X-strale gewys dat die pootjie begin aangroei en intussen het Dupa heeltemal herstel en loop nou normaal.

Sy het ook ‘n skildpad op Oudtshoorn gehelp. Sy pootjie is geamputeer en hy kon nie behoorlik loop nie. Sy dop het begin deurskuur as hy beweeg het. Sy het by ‘n ingeni eursvriend gaan aanklop vir raad en ‘n plaat met wieletjies is ontwerp om onderaan die skilpad te plaas dat hy vryelik kan beweeg. Ongelukkig het die skilpad intussen ontsnap by die perseel waar hy in Oudtshoorn gehou was.

Verlede week is die stut vir die Jack Russell gepas. Hy het sy skouergewr­ig gebreek en daar is skade aan die senuwees in sy regter voorbeen. As gevolg daarvan en na sewe weke se gips en operasies, het sy spiere saamgetrek en hy kon nie die been reguit maak en gewig op die voet dra nie. Die stut steun hom nou as hy beweeg en strek die spiere uit.

Na goeie vordering in ‘n week se tyd, sal hy na verwagting ten volle herstel.

De Jager het benadruk sy doen dit ter wille vir die liefde van diere. Sy hoop mense besef dat die uitsit van ‘n dier die laaste opsie is en daar moet eers gekyk word of die dier nie dalk op ‘n ander manier gehelp kan word nie.

Dis nie net honde wat gehelp kan word nie, maar ook byvoorbeel­d katte, voëls, groot vee en wild.

 ??  ??
 ?? Eugene Gunning
Foto: ?? Danièlla de Jager met die Jack Russel, waarvoor sy ‘n stut vir sy regterpoot ontwerp het.
Eugene Gunning Foto: Danièlla de Jager met die Jack Russel, waarvoor sy ‘n stut vir sy regterpoot ontwerp het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa