Nuwe lewe wag met pa Hans se nier
'n Vrou van Oudtshoorn het 'n kans op 'n nuwe lewe nadat haar pa aangebied het om 'n nier aan haar te skenk.
"Ek wil my storie met almal deel. Dit is vir my belangrik dat mense moet verstaan waaroor nierversaking gaan en waarmee persone wat daarmee gediagnoseer is moet saamleef."
So sê Stephany Stoffels (27) wat op 'n nieroorplanting wag omdat haar niere glad nie meer funksioneer nie.
Sy was as kind sieklik, maar is volgens haar vir jare slegs vir allergieë behandel. Dit is eers toe sy verlede jaar in die hospitaal opgeneem word dat sy uitgevind het haar niere is besig om in te gee.
"Die dokters het gesê daar is niks wat hulle verder vir my kan doen nie. Dialise was ook nie 'n opsie nie omdat ek medikasie moes gebruik wat nooit vir my voorgeskryf is nie. My hart het vir 'n halfuur gaan staan, maar 'n dokter van die weermag het vir my gebid en gesê dat dit nog nie my tyd is nie. Ek het vir my pa gesê die Here het nog nie vir my gesê dat dit my tyd is nie. Ek móés leef. Einde ten laaste is daar besluit dat hulle my wel op dialise gaan sit."
Dokters het 'n pypie in haar maag ingesit en Stephany moet elke vier ure glukose en kalsium gebruik om haar niere te spoel.
"Ek is reeds vir meer as 'n jaar op dialise. Daar is so baie newe-effekte wat met nierversaking saamgaan. 'n Mens is in konstante pyn, ek moet daagliks medikasie gebruik wat keer dat my lewer nie ook ingee nie. Ek kan ook nie gewone medisyne vir verkoues en ander algemene siektes gebruik nie. Ek moet spesiale kosse eet en my kamer moet gesteriliseer word om seker te maak dat ek nie aan kieme en infeksies blootgestel word nie." Weens haar nierversaking is haar immuniteitstelsel ook geaffekteer en kan sy nie sosiaal verkeer soos wat sy in die verlede het nie.
"Ek moet naby die huis wees sodat ek die dialise kan doen en die risiko vir infeksies en ander siektes is te groot. Ek het voorheen geweldig baie gemeenskapswerk gedoen, maar kan dit ook nie meer doen nie omdat ek myself moet op pas."
Stephany se pa, Hans en haar ma, Betty, staan haar tydens haar siekte by.
Haar hele gesin het hulle laat toets om te kyk of een van hulle 'n nier aan haar kan skenk.
“My pa gaan vir my een van sy niere skenk sodra die dokters bevind dat hy fisies gereed is vir die operasie."
Hans sê vir hulle as gesin is dit 'n groot beproewing.
"Om by te hou met al die skoonmaakmiddels en spesiale kosse wat sy moet eet is moeilik. Ons almal moet saam staan en saam werk om die huis skoon en kiemvry te hou, selfs die groente moet twee ure in kookwater geweek word om die kalium wat daarin is uit te haal."
Stephany sê sy wil mense aanmoedig om orgaanskenkers te word.
"So baie sterf omdat daar te min mense op die orgaans kenkingslys is. Dokters het gesê dit kan tot 10 jaar neem voor ek 'n nier kan kry indien niemand in my familie een skenk nie."
Ten spyte van die pyn waarmee sy daagliks saamleef en die feit dat sy self haar dialise administreer, is opgee vir haar nie 'n opsie nie. Stephany sê sy het nog baie drome vir die toekoms. Sy hoop dat sy binnekort die nieroorplanting kan kry sodat sy 'n kinderhuis in Oudtshoorn kan oprig en ook eendag kinders van haar eie kan hê.