Oudtshoorn Courant

Om sag te lewe

-

Verlede week kla ek dat ek nie meer een Facebook-plasing, twiet of koerantber­ig oor die Zondo-kommissie, die geplunder van staats- en munisipale koffers en rassisties­e opmerkings na alle kante kan absorbeer nie. Ek het genoeg ge-Steve en ge-Zindzi en ge-Ramaphosa. Ek was moeg. Moeggelees, moeggehoor, moeggeskry­f, byna moegmensge­wees. En telkens het ek myself gevra hoe bly mens positief as alles van alkante af ‘n gesanik is en hoe keer ek om nie soos vele ander landgenote opreg boerbedonn­erd te raak nie.

Toe kom Maandag. Maandag, toe meer as ‘n honderd mense in George by ‘n troosdiens die lewe van ‘n sagte mens gaan vier het. Reinhard Retief die argitek, die kunstenaar, die digter, die meesterkok, die gesinsman, het vir slegs twee maande na sy diagnose nog gelewe. En, terwyl mense oor hom praat en foto’s van hom en sy gesin een vir een op die skerm in die kerk verbyrol is die deurlopend­e boodskap: Reinhard het sag gelewe.

Met sy breë glimlag, sy voorliefde om drukkies uit te deel en sy passie vir alles wat mooi is in die lewe, het hy hom min gesteur aan die dinge wat my laasweek, laasmaand en eintlik die afgelope paar jaar beneuk en bedruk gemaak het. Dalk het dit hom ook bekommer, dalk het dit hom ook gepla, maar hy het dit nooit deel van ‘n gesprek waar ek was, gemaak nie. Sy gesprekke was oor sy drome, oor sy mense, oor sy kuns en weer ‘n keer oor sy drome.

Iemand vertel Reinhardt was die enigste ou wat hy geken het, wat met ‘n sigaret in die mond kon windsurf en ‘n ander een noem dat Reinhard een van die min mense is wat nooit iets afbrekend oor enigiemand gesê het nie.

Op pad terug huis toe na die diens sê ek vir my vrou ons moet leer om sagter te lewe. Sagter met ander mense, sagter met die wêreld, maar veral sagter met onsself. Maar jinne Reinhard, dis moeilik. Dis nie sommer vir opstaan en sag lewe nie - dit verg inspanning, dit verg moeite en dit verg stilbly en luister en dan weer stilbly eerder as om te reageer.

Om sag te lewe is ‘n kuns wat mens waarskynli­k soos enige ander kunsvorm oor ‘n lang tyd moet aanleer en ontwikkel en oefen. Toe ek iewers midde die saamdromme­ry kans kry om vir Reinhard se vrou ‘n drukkie te gee kon ek met eerlikheid vir haar sê: “Annelie, julle gaan oraait wees, julle gaan okay anderkant uitkom.” Ek kon dit sê, want Reinhard se manier van sag lewe het op sy gesin afgeskuur, dit was hulle voorbeeld van hoe om te lewe - sag met ander en met hulself.

Begrafniss­e is begrafniss­e. Daar’s mooi boodskappe, hope hartseer, koffie en koek na die tyd en ‘n groot leemte wat ‘n hele huis volmaak. Maar, soms, soos Maandag, is ‘n diens baie meer as dit. Soms is ‘n diens die begin van nuutkyk na wie ons is en hoe ons met ander omgaan. Dankie Reinhard dat jy sag gelewe het en dat ek ‘n klein deeltjie daarvan kon ervaar.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa