Een twee drie - gaap
Ek weet ek moet ontsteld raak en aandring op antwoorde en mense aan hulle skouers gryp en skud en die gemeenskap onprofessioneel en mediaonwaardig opsweep tot aksie. Maar, al wat ek eintlik wil doen is om te gaap. Nie gaap soos in vaakgaap nie, ook nie gaap soos in verveeldgaap nie, maar gaap soos in vertel-my-iets-nuuts-gaap. Vanjaar is my agtste jaar in die dorp. Die agtste jaar van politieke woelinge in Oudtshoorn. Die agtste jaar van persoonlike agendas en politiekerugstekery. Ja, die agtste jaar van dieselfde storie en al wat verskil, is die rolspelers.
Die wyse Salomo, as dit hy is wat Prediker geskryf het, slaan die spyker op die kop as hy sê: “Niks wat gebeur is nuut nie, Wat gedoen is, sal weer gedoen word. Daar is niks nuuts onder die son nie.” (Prediker 1:9) Dalk het hy met hierdie aantal waarwoorde ‘n skuinsklap na politici en leiers uitgedeel, want dit is hoe dit is. As ek in ‘n filosofiese oomblik oor die afgelope agt jaar oor my dorp reflekteer speel dieselfde scenario hom oor en oor af. Kiesers wat vol verwagting stembus toe stroom en kruisies trek langs name van groot beloftes, aanstellings wat gemaak word, salarisse wat verdien word, alliansies wat gesmee word en net so vinnig verbreek word, geld wat monde stilhou en dorpenaars se beursies wat leegraak. Al wat verander is die rolspelers, want ongeag hoe mooi alles ingekleur word en ongeag hoe breed geglimlag word en desondanks beloftes en dreigemente van hoër gesagte speel die voorafgeskrewe storie wat Salomo al duisende jaar gelede gesien het steeds af. En die twee hoofrolspelers is mag en geld, maar veral geld.
Om ‘n raadslid te wees is ‘n werk waarvoor ‘n salaris verdien word en dus is dit redelik logies dat enige raadslid tot die spreekwoordelike dood sal baklei om sy pos te behou. Voeg hierby die ander waarheid dat talle aanstellings in munisipaliteite se senior poste dikwels politieke aanstellings is. Nou raak die belangrike demokratiese beginsel “deur die mense, vir die mense” so effens gryserig. Dit verander in sommige gevalle eerder na “deur die mense, vir myself”.
Ek sanik dalk nou en ek sleep vir arme koning Salomo by my geweeklaag in, maar dit lyk werklik vir my of niks verander het nie. Ja, ons munisipaliteit se finansies lyk beter, ja daar is nie ‘n kleinpartystert wat die hond rondswaai nie (of is daar dalk een wat hom of haarself mooi in die kleure van ‘n groot party kamoefleer - wie sal weet?), maar die agteraf gekonkel gaan steeds voort.
Inwoners sal goed onthou hoeveel honderde duisende rande ons moes opdok vir ‘n simpel sand-en-klip-saak teen die vorige burgemeester. ‘n Saak waarvoor regspanne ingevlieg en in luukse hotelle oornag het. Daardie klag was nooit gelê omdat die diefstal van ‘n paar honderd rand se sand ‘n aartsmisdaad is nie. Dit is gelê as ‘n politieke strategie om van die burgemeester ontslae te raak en wie moes die gelag betaal? Belastingbetalers.
Dit is hoekom ek in die versoeking is om net te gaap en my oë te rol, want uit die hoek waarvandaan ek kyk, en ek mag heel verkeerd wees, lyk dit my of hier weer persoonlike agendas aan’t afspeel is. Agendas wat dalk weer in die hof kan beland en waarvoor ons weer ons hande nog dieper in ons leë sakke sal moet steek. En, iewers in die agtergrond kef ‘n tandlose waghond wat grotendeels geïgnoreer word.