Oudtshoorn Courant

Voetspore

-

‘n Droom het vir my en vroulief waar geword – ons het saam met al ons grootmensk­inders vir twee weke lank ‘n wye draai deur Namibië gery! Daar was soveel hoogtepunt­e, soveel om te onthou, soveel momente wat mens sou wou vashou! Dis onmoontlik om te besluit wat die lekkerste, die mooiste, die kosbaarste was – die saamwees as familie, die saam kuier om ‘n hardekool vuur, kosmaak op ‘n vuur, inkruip in ‘n tent, aan die slaap raak met die getjank van ‘n jakkals in die vêrte, wakker word met ‘n gemsbok wat tien treë van jou tent af wei, Walvisbaai se flaminke, Etosha se diereryk, die woestyn, Sossusvlei se duine ...

Van Sossusvlei se duine gepraat - ons het sowaar die duin met die naam Big Daddy aangedurf! Wel, die naam behoort reeds iets te sê van wat op ons gewag het. Ja, glo my, dit was nie die maklikste stap nie, maar wat ‘n belewenis! Met elke tree wat jy gee, word die sand in jou skoene net meer en meer. Dit het later vir my gevoel of ek ‘n nommer drie skoen dra. En hoe meer sand, hoe swaarder jou voete. Dit voel later regtig of mens stilstaan, of dat jy met elke tree vorentoe twee treë agteruit beweeg. Verder moet jy die hele tyd op die randjie stap wat op die duin vorm, anders kan jy dalk teen die duin begin afgly.

So halfpad teen die duin uit, het ek omgekyk om vir vroulief te vra of alles nog reg is. “Ja” het sy kalm geantwoord, “ek stap net die hele tyd in jou voetspore. “En ...” het sy bygevoeg, “ek bly naby aan jou, want as ek te ver agter raak, waai jou voetspore dood.”

Terwyl ek swaarvoet verder teen die duin uitbeur, het ek begin dink oor die waarde van voetspore voor ons. Dis die voetspore van ons Bybelse voorouers wat ons op die pad hou. Dis die voetspore van ons aardse voorouers wat ons op die pad hou. Dis die voetspore van geestelike en opvoedkund­ige leiers en helde wat ons op die randjie van die lewe laat balanseer. Dis die voetspore voor ons wat ons inspireer om verder te stap, wat vir ons sê “hou aan, jy kan bo uitkom!”

Maar dit was veral vroulief se woorde oor voetspore wat doodwaai wat my aan die dink gesit het. As die voetspore van ons voorganger­s begin toewaai, is ons in die moeilikhei­d. As die voetspore van die geskiedeni­s wegraak, is die kans goed dat ons teen die duin kan afgly. As ons te ver agter raak, en die voetspore voor ons gaan dood, kan ons moed verloor en sukkel om bo uit te kom.

En toe dink ek aan die duidelike voetspore van ons Here Jesus ... en aan my navolging in sy voetspore ... en aan die gevaar as ek te ver agter Hom begin stap ... en sy spore begin toewaai ...

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa