Oudtshoorn Courant

Polisie by skool vir veiligheid

- LIEZL VAN NIEKERK

Leerders van Hoërskool Môrester is Maandag en Dinsdag onder polisiebew­aking huis toe weens onmin tussen die leerders wat by die skool heers.

Volgens een van die ouers met wie die Oudtshoorn Courant gepraat het, was 'n groot aantal leerders Maandag en Dinsdag afwesig omdat hulle te bang was om skool toe te gaan. Volgens hierdie ouer was daar Sondag 'n groep kinders wat 'n man wou beroof en het 'n ander groep kinders ingespring om die man te help.

"Die kinders wat wou help woon almal in een buurt en word nou almal by die skool geteiken. Of hulle nou deel was van Sondag se gebeure of nie."

Een van die seuns is Dinsdag deur sy ma by die skool gehaal as gevolg van dreigende boodskappe wat hy van 'n ander leerder ontvang het. 'n Ander leerder is met messe by die skool gejaag. Drie meisies is Dinsdag in aparte voorvalle by die skool aangerand terwyl ouers met die skoolhoof gesels het oor Maandag se aanranding­s by die skool.

Volgens die ouers is hulle raadop omdat die hoof glo die leerders wat seergekry en aangerand word huis toe stuur.

"Die kinders wat ons kinders seermaak bly by die skool. Dit is asof die hoof hulle beskerm."

Wes-Kaapse onderwysde­partement

(WKOD)

Volgens Millicent Merton, woordvoerd­er van die Wes-Kaapse onderwysde­partement (WKOD), het gebeure in die gemeenskap Sondag die skool genoop om die polisie te versoek om die strate in die omgewing van die skool op Maandag te patrolleer. Merton sê dat daar wel ouers was wat hul kinders by die skool gaan haal het omdat hulle onveilig gevoel het, maar dat die probleem soggens en smiddae is wanneer die leerders op pad skool toe is en wanneer hulle verdaag.

"Daaroor het die skool min beheer wat buite die skoolhekke gebeur. Die polisie handhaaf teenwoordi­gheid in die omgewing."

Volgens haar word tugstappe geneem teen die leerders wat twee ander leerders Dinsdag na bewering gedurende pouse geklap het.

"Die skool ondersoek ook klagtes dat leerders gedreig word. Die skool se hande is egter afgekap as dit kom by elemente uit die gemeenskap wat leerders se veiligheid bedreig. Die personeel doen alles binne hul vermoë om die veiligheid van leerders binne die skool te verseker."

Merton sê die skool het ‘n sekerheids­maatskappy gekry om te help met die sekuriteit en van die beheerligg­aamlede is ook op die terrein om te help.

"Daar is met Veilige Skole gereël om die skool met tydelike sekuriteit te help."

Oudtshoorn-polisie

Kapt. Louis Visser, woordvoerd­er van die Oudtshoorn-polisie sê die polisie monitor die situasie en daar word intensiewe patrollie gery as die skool uitkom.

"Daar is tans gesprekke met ouers, kinders en die skoolhoof en daar gaan nou gepoog word om al die partye bymekaar te bring om die situasie te ontlont. Die polisie sal voortgaan om die omgewing te patrolleer om die situasie so kalm as moontlik in die omgewing van die skool te hou."

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa