Oudtshoorn Courant

Roudiens vir verdrinkin­gslagoffer

- WYNDHAM EWERTS

Presies 'n jaar nadat Juandre Gaylon Piedt (27) by Leentjiesk­lip in Wildernis verdrink het, het sy familie besluit om 'n roudiens vir hom by Bridgton UCC te hou. ‘n Uitgebreid­e soektog om Piedt se liggaam op te spoor het tot dusver geen vrugte afgewerp nie.

Andrea Jooste, verloofde van die slagoffer, het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat dit 'n moeilike jaar vir haar en die twee kinders, Lameez (5) en Charlin (8), was.

"Tot en met vandag het ons nog nie hoop laat vaar dat ons sy liggaam sal vind nie. Die uitgebreid­e familie het egter besluit dat ons 'n roudiens ter ere van Gaylon moet hou sodat ons berusting kan vind."

Tydens dié diens is 'n kers as 'n simbool van lewe aangesteek en weer geblus om aan te dui dat sy liggaam die aarde verlaat het. Piedt, wat oorspronkl­ik van Volmoed is, het ten tye van sy vermoedeli­ke verdrinkin­g by sy ouma Gertruida Lourens, gewoon.

Hy is verlede jaar op die aand van 26 Oktober met 'n taxi opgelaai en het aan sy ouma genoem dat hy en 'n paar vriende vir die naweek by Wildernis sou gaan kamp. Hy sou die Sondag weer terugkeer.

Sy verloofde, Andrea Jooste, het egter die Saterdagog­gend die tyding ontvang dat Piedt glo in 'n watermaalg­at beland het en deur 'n fratsgolf meegesleur is. "Dit voel vir my soos gister dat hy so wreed van ons weggeruk is. Die pyn sit nog vlak en ek probeer sterk wees om sy dood te aanvaar vir ons dogters se onthalwe. Na vandag se diens het ons tot in 'n mate finaal afskeid van hom geneem. Sy lig sal vir altyd in ons harte en lewens skyn," het sy gesê.

Piedt was ook 'n kranige rugbyspele­r wat vir Bridgtonru­gbyklub gespeel het. Sy afrigter, Reginald Jooste, het Piedt beskryf as 'n nederige persoon vir wie 'n mens nie anders kon as om te respekteer nie. "Dit is die merk wat hy by ons klub gemaak het en dis 'n eienskap van hom wat altyd by my sal bly," het hy gesê.

 ?? Foto: Wyndham Ewerts ?? Van links is Henry Jafta (Gaylon se pa), Charlin Jooste, Lameez Piedt en Andrea Jooste.
Foto: Wyndham Ewerts Van links is Henry Jafta (Gaylon se pa), Charlin Jooste, Lameez Piedt en Andrea Jooste.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa