Oudtshoorn Courant

Malgas skuldig aan moord op saamleefma­at

- GARNETT WICOMB

‘n Man van Rosebank op Oudtshoorn is verlede Donderdag in die Oudtshoorn­streekhof aan moord op sy saamleefma­at skuldig bevind en die saak vir vonnisverr­igtinge tot volgende maand uitgestel.

Streekland­dros JC Nortjé het bevind dat Elrico Malgas (22) die enigste persoon is wat sy lewensmaat, Viola Maxim, so erg kon aangerand het dat sy aan haar beserings beswyk het.

Malgas het erken dat hy en Maxim op 29 Junie 2015 in ‘n stryery was en baklei het. Hy ontken egter dat hy vir haar beserings blameer kan word.

Volgens hom het hy die nag by ‘n oom oorgeslaap en kon Maxim nie die volgende oggend wakker kry toe hy by die huis kom nie. Hy het Maxim in ‘n kombers toegedraai en toe sy neef geroep om haar te help dra na die hoofwoning van sy moeder.

Malgas is op omstandigh­eidsgetuie­nis skuldig bevind.

Hy het nie die hof beïndruk met sy getuienis nie en Maxim het volgens die nadoodse ondersoek omvattende beserings opgedoen wat net deur die beskuldigd­e toegedien kon word.

Die landdros het in sy uitspraak gesê Malgas het heeltemal apaties gestaan teenoor die beserings van die oorledene. Hy bel ‘n ambulans, maar maak hom daarna uit die voete en het voor dit sy bebloede klere in ‘n wasmasjien gegooi.

Die saak is vir vonnisverr­igtinge tot 21 November uitgestel.

Corné Pretorius was die aanklaer terwyl Gideon Badenhorst namens die beskuldigd­e verskyn het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa