Eerste en laaste asem
“My eerste asem in 1946 was onafwendbaar die begin van my laaste asem waarvoor ek nou wag.” Dit het my kunstenaarsvriend Lourens Oosthuisen twee maande gelede geskryf toe hy besef het hy gaan nie weer uit sy bed uit opstaan nie. Sy laaste asem was vyf weke gelede en daarmee het hy sy dogter en seun wat hom versorg het gegroet. Lourens het ‘n lang stuk oor asem begin skryf en nie geleentheid gekry om dit te voltooi nie. Toe ek dit lees het ek telkens gewonder hoe produktief gebruik ons ons asem. Daardie asem wat elke keer een nader aan die laaste een is. Lourens het elke asem gebruik om te lewe. Ek kan nie onthou dat hy ooit asem gemors het op kwaad word, op skinder, op afkraak of op kla nie. Na sy dood het sy dogter, Christine, gesê: “My pa het nooit geld gehad nie, maar hy was die man met die meeste vrede en vryheid wat ek ooit geken het.”
Lourens het nie daaraan geglo dat mense dinge vooruit moet beplan nie. “Goed sal gebeur soos dit moet gebeur,” het hy gesê. Soos die dag toe ek in Hoogstraat in Oudtshoorn afstap en skielik verskyn Lourens uit ‘n winkeldeur voor my. Ek was verstom, want ek het hom meer as drie jaar voor dit in Knysna raakgeloop en hy het toe iewers in die Vrystaat in ‘n vernietplaashuis gewoon. Toe hy my voor hom op die sypaadjie sien het sy kenmerkende lag diep uit sy keel gekom en al wat hy sê is: “So, daar’s jy toe.”
Hy vertel my hy pas ‘n huis in Prins Albert op vir ‘n paar maande en ek is so opgewonde om hom te sien ek besluit terstond dat ek dieselfde aand oor die
Swartbergpas gaan ry en by hom oorslaap. Hy was ietwat skepties oor die vooraf beplanning, maar stem in dat ek die aand kan kom kuier en oorbly. Hy was heeltemal reg dat mens goed moet los dat dit spontaan gebeur, want toe ek op my motorfiets halfpad oor die Swartbergpas is, kom ‘n Hollander in ‘n groot “camper” van die anderkant af op gery en daar’s nie plek vir ons altwee nie.
Ek val myself omtrent in ‘n ander bloedgroep in. My arm voel of hy gebreek is en my been wil nie ordentlik reageer nie, maar ek beur voort, want ek het mos beplan om by Lourens te kuier. Nodeloos om te sê die kuier was ‘n nag van pyn en dit het my die volgende oggend byna drie ure geneem om met my skewe motorfiets, opgeswelde arm en pynlike been die 75 km tot by die huis af te lê.
‘n Aantal jare gelede het ek en hy mekaar, weereens heel toevallig, een aand by die Grahamstadfees raakgeloop. Terwyl ons langs ‘n lamppaal staan en gesels kom ‘n jillende feetjie met ‘n pienk tutu en wapperende Pep Stores vlerkies uit die donker op ons afgestorm met ‘n rol packaging tape in haar hand en woertswarts hol sy om ons en plak ons langs mekaar aan die lamppaal vas. Terwyl ek my asem mors om te swets het hy net uitgebars van die lag totdat ‘n paar studente ons kom lossny het.
Die laaste keer dat ek Lourens se stem gehoor het, was so drie weke voor sy dood. Hy het vir my stemboodskappe gestuur en ek het twee of drie teruggestuur. In sy tweedelaaste stemboodskap het hy my bedank vir ‘n vriendskap van meer as dertig jaar, een van wisselende intensiteit, het hy dit genoem.
In sy laaste boodskap het hy slegs die twee woorde, “Dankie Hannes” met moeite uitgekry: En kort daarna het hy sy asemsiklus voltooi.
Wanneer ek my deesdae vererg, wanneer ek myself moet keer as ek op iemand gil, wanneer ek in ‘n sinnelose argument betrokke wil raak dink ek aan Lourens. Dan dink ek daaraan dat ek ook, soos ons almal, net soveel asemteue gegun word, en waarop ons hulle gebruik, benut of vermors, hang van ons af.
Lourens se seun en dogter het vir my een van sy gunsteling skilderye geskenk. Dit beeld ‘n fiets uit wat teen ‘n sypaadjie in Prins Albert staangemaak is. ‘n Fiets wat sê: “Ek wag geduldig terwyl my eienaar asemskep om verder te ry.”
Lourens, dankie dat so baie van ons deel van jou asem kon wees, dat jy jou asem gebruik het om ons te bemoedig en om vir jou kinders ‘n toonbeeld van vrede en vryheid te wees.