Oudtshoorn Courant

Wanneer is jy werklik ryk?

-

Ek sit en kuier oor ‘n koppie koffie saam met ‘n afgetrede boer. ‘n Man wat duidelik sukses en voorspoed in die lewe gesmaak het. En nou geniet hy sy sorgvrye aftreejare. Sy beleggings is genoeg om hom rustig te laat slaap en die wêreld vol te reis. Hy vertel met smaak hoe daardie ekstra rentetjies sy bederfgeld is – hoe hy vir hom luukses aanskaf en saam met sy vrou die een oorsese reis na die ander geniet.

Terwyl hy opgewonde van sy volgende ekskursie na een of ander eksklusiew­e oord vertel, dwaal my gedagtes skielik na die baie afgetreden­es wat nagte wakker lê van bekommerni­s. Ek dink aan hulle wat met ‘n karige pensioenge­ldjie probeer oorleef. Hulle vir wie die enigste bederf ‘n gratis koppie tee en toebroodji­e by ‘n kerkfunksi­e is.

Maar my gedagtes dwaal ook na die sendeling wat sy lewe lank in Afrika vir die Here gewerk het. Teen ‘n karige sendelings­alaris het hy sy lewe daaraan gewy om met die evangelie van liefde ‘n verskil in mense se lewens te maak. ‘n Paar jaar na sy aftrede, besoek hy in Kaapstad die sendingkan­toor van die kerk wat hom uitgestuur het.

Hy haal ‘n sak met geld uit en oorhandig dit aan die sendingsek­retaris, met die versoek dat dit gebruik moet word om die werk van die Here te laat voortgaan in hierdie Afrikaland. Die sendingsek­retaris was natuurlik baie verbaas. Hoe sou hierdie sendeling, wat sy lewe lank vir min geld gewerk het, en wat ‘n karige pensioen verdien, soveel geld bymekaar kon maak?

En toe verduideli­k hy: “Ek het oor al die jare elke maand so ‘n paar rand gespaar. Ek het dit afgeknyp, want ek en my vrou het ‘n droom gehad. Ons het besluit dat ons, na ons aftrede, ‘n bietjie Israel toe wil gaan. Ons wou by al die plekke waarvan ons in die Bybel lees, ‘n draai gaan maak.”

Die sendingsek­retaris was stomgeslaa­n. “En nou, hoekom gebruik julle dit nie? Hoekom gaan maak julle nie julle droom waar nie?”

“Ag wat” sê die afgetrede sendeling, “Ons het nou mooi gedink. Ons het oud geword.

Die jare totdat ons na die nuwe Jerusalem gaan, is nou nie meer so ver nie. Wat sal ons nou al hierdie geld gebruik om in die ou Jerusalem ‘n draai te gaan maak? Ons wil dit liewer gee sodat ander die boodskap van Jesus Christus kan hoor, en sodat hulle ook die pad na die nuwe Jerusalem kan vind.”

Terwyl my aandag stadig en teensinnig terugkeer na die gesprek waarmee ek besig is, wonder ek wie die ryke is – die een met die geld in die bank, of die een wat die bietjie wat hy gespaar het, uitdeel? Natuurlik is daar niks fout daarmee om jou geld op een of ander manier te geniet, onder andere deur te reis nie. Maar tog wonder ek wie se lewensreis die grootste ervaring is – die een wat sy drome oor duisende kilometers geleef het, van noord na suid, van oos na wes, of die een wie se droom dit is om ander te help om die pad na die nuwe Jerusalem te vind? En ek wonder wie met die grootste glimlag en vrede saans sy gryskop op die kussing neerlê?

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa