Oudtshoorn Courant

Titus getuig in moordverho­or

- LIEZL VAN NIEKERK

Die moordverho­or van Preston Titus is Woensdag in die rondgaande hooggeregs­hof op Oudtshoorn voortgesit. Die staat het in September vanjaar hul saak gesluit en die verdedigin­g kry van die week af die geleenthei­d om hul saak voor die hof te stel.

Magdaleen Titus, Preston se vrou, het Woensdag begin getuig. Volgens haar was sy en Preston 16 jaar getroud en is daar twee kinders uit hul huwelik gebore. Volgens haar sou haar jongste dogter ‘n staatsgetu­ie in die saak wees en het sy vir ongeveer twee jaar geen kontak met haar dogter gehad nie omdat sy nie met staatsgetu­ies mag praat nie.

Sy het getuig oor hoe sy die verdagtes, wat saam met haar aangekla word, leer ken het. Sy het Sixabiso Klip, wat reeds gevonnis is, Masithembe January (MJ) en Justice Mooi in

2017 ontmoet. Sy ken Natasha Stuurman al 15 jaar.

Volgens haar was Klip jaloers as ander mans na aan haar kom en was hy effe besitlik oor haar. “Ek het ‘n paar keer hard met hom oor dit gepraat, want ek het nie in hom op ‘n romantiese manier belanggest­el nie.” Sy het verder erken dat sy en MJ wel in ‘n verhouding was.

Daarna het sy oor die aand van die moord gesels. Sy het kalm en ontspanne voorgekom. Sy het vertel dat sy en haar man nie in een kamer geslaap het nie omdat hy gesnork het en altyd met oop vensters en ‘n waaier geslaap het. Sy sê dat sy die aand van die moord ‘n waaier in sy kamer gesit het en ook een in haar en haar jongste dogter se kamer. Haar oudste dogter was by ‘n partytjie en sou deur ‘n vriend wat ook in die weermagbas­is woon huis toe geneem word. Titus het vertel dat sy langs haar dogter gaan slaap het.

“Ek het wakker geword van ‘n klop aan die venster en iemand wat roep. Ek het eers gelê om te hoor of ek reg gehoor het en toe staan ek op, want dit was my oudste dogter wat wou inkom. Sy het aan haar pa se venster geklop. Soos ek by die kamer uitgeloop het, het ek vir Preston gevra of hy nie die kind hoor klop nie en toe sien ek die kamer is deurmekaar. Toe sien ek Preston op sy maag tussen die twee enkelbedji­es lê. Ek het geskree.” Volgens haar het sy terug gehardloop na haar jongste dogter en ‘n kombers oor haar gegooi en haar gesê om in die kamer te bly. Sy het toe die agterdeur vir die oudste dogter oopgesluit. Die man wat die oudste dogter afgelaai het, het by haar verby gestorm na Preston se kamer. Titus sê sy is weer buitentoe en het na die bure geroep en wou die jongste dogter gaan haal toe die oudste dogter aan haar sê dat haar sussie reeds by die venster uit is en na bure gegaan het.

Volgens haar was sy, na sy haar man se liggaam in die kamer ontdek het, in ‘n toestand en glad nie haarself nie. “Ek was histeries en het selfs op ‘n stadium vir ‘n polisiebea­mpte gevra of ons nie vir Preston hospitaal toe kan neem nie.”

Sy het gesê dat sy eers ‘n hele ruk later besef het dat daar items uit haar huis gesteel is. Henk Carstens, Titus se regsvertee­nwoordiger, het dit aan haar gestel dat Sixabiso Klip in sy bekentenis gesê het dat sy die moord op haar man beplan het en Mooi gehuur het om hom te vermoor. Sy het dit ontken. Volgens haar het sy ook nie geweet van enigiemand wat haar man wou vermoor of dat daar so iets beplan word nie.

Carsten het ook aan haar gevra of sy weet waarom Klip haar as meesterbre­in agter die moord sou impliseer.

“Ek weet regtig nie,” het sy geantwoord. Die saak het Donderdag voort gegaan. Mooi se regsvertee­nwoordiger, adv. Stoffel Prinsloo, het met kruisonder­vraging begin.

 ?? Foto: Liezl van Niekerk ?? Magdaleen Titus Woensdag in die getuiebank.
Foto: Liezl van Niekerk Magdaleen Titus Woensdag in die getuiebank.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa