Dié wêreldbeker les ons dors
Terwyl ek iewers in Oudtshoorn jubelende bokondersteuners afneem, besef ek dat die eenheidsgees van Madiba springlewendig is. Wit, bruin, pienk, swart en groen - vreemdelinge omhels mekaar sonder om twee keer te dink. Selfs drankies is met ‘n glimlag op mekaar gemors, maar wie gee om?
Maar tog is dit ‘n euforiese gevoel wat meeste van ons al ervaar het. Wedersydse respek vir mekaar se vermoëns was voor Saterdag egter volksvreemd vir ons - die groot deurbraak waarna so lank gehunker is, die gevoel van aanvaarding in ‘n historiese “wit sport”, iets wat meeste gedink het nooit sou realiseer nie.
Want ja, Rassie Erasmus (Bokafrigter) het die skynbaar “onmoontlike” reggekry deur vyf etniese swart spelers en twee bruin spelers in sy begin 15 tal (plus een bruin speler op die bank) in te sluit en so wraggies die wêreldbeker daarmee gewen.
Geen gesanik oor transformasie, geen swart ekonomiese bemagtiging en kafpraatjies nie, slegs die openlike bewondering van rugbytalent. Uiteindelik kon die diverse volk net oor een “normale” onderwerp soos ander lande debatteer wedstrydplanne en watter taktiek effektief sou wees om die beker vir derde keer in ons geskiedenis huis toe te bring.
Volgens negatiewe suurknolle sou die wiele van die Bokke se “vervelige” wedstrydplan en oordrewe skoptaktiek glo in die eindronde afkom. Dit was veral die skrumskakel, Faf de Klerk wat die meeste kritiek verduur het omdat hy glo te veel balbesit in vorige wedstryde weggeskop het, ‘n sonde waarmee hy volgens sy kritici nie teen die magtige Engelse sou wegkom nie.
Ek en ander Bokondersteuners het hierdie sentiment gedeel en met die gevolg was daar met arme De Klerk op elke humoristiese meme op sosiale media die spot gedryf.
Erasmus het voor dié wedstryd dit egter in die media duidelik gemaak dat hy nie van dié omstrede taktiek sou afstand doen nie. Groot was die verbasing dus toe De Klerk vir die eerste keer in die toernooi slegs vier keer geskop het (ek het getel). Hierdie skielike ommeswaai van taktiek nadat die uitgeslape Erasmus heelweek plegtig belowe het dat niks gaan verander nie het die Engelse vir beter dae laat wag vir Faf om te skop.
Toe hy wel skop het hy enorme druk op sy teenstanders geplaas. Die Bokke se veelbesproke ses voorspelers - en twee agterspelers op die plaasvervangersbank het ook die lewe uit die Engelse gewurg en moes hulle uiteindelik verspot maklik met 32-12 die knie buig.
Selfs hierdie meesterskuif was bevraagteken omdat dit kwansuis ‘n tree terug is omdat dit nie tred gehou het met die moderne minimum kontak - hardlooprugbystyl wat die All Blacks so suksesvol oor die jare gemaak het nie.
Erasmus het egter soos ‘n soutpilaar doodstil gestaan en nie geswig onder die druk nie - bloot omdat dit sy visie was dat die Springbokke die beker met hul traditionele klipharde voorspelerspel sou verower.
As gevolg van dié brutale voorspeleraanslag was ‘n derde van die Engelse span se wit truie deurdrenk in ‘n rooi vloeistof; en die res soos hulle sê, is geskiedenis.
Die les uit hierdie oorwinning vir ons almal is dat ons omstandighede, sterkpunte en swakpunte hemelsbreed van mekaar verskil. Deur iemand anders se styl na te aap beteken dat jy altyd agter is met nuwe aanpassings en manipulasies juis omdat dit nie eie aan jou is nie.
Die oomblik toe ons die raskaart by die venster uitgooi kon ons as ‘n eenheid opbouende kritiek lewer oor die Bokspan oor ons eie mense se span.
Wie weet, dalk net die regte doepa kritiek wat op die Bokbestuur se ore geval het. Wat skrikwekkend is, is die feit dat ons die hele toernooi nie uit vierde rat gekom het nie. Dit voorspel niks goed vir ons teenstanders nie want ons beste is nog op pad!