Oudtshoorn Courant

Huis Triomf sluit dalk

- HANNES VISSER

Daar het hierdie week ‘n noodkreet om dringende hulp vir Huis Triomf uitgegaan. Dié enigste kinderhuis vir seuns in die Tuinroete en Klein-Karoo staar sluiting in die gesig omdat daar eenvoudig nie meer genoeg geld is nie.

Die bestuursra­ad van huis Triomf het Maandag ‘n beroep op die media gedoen om inwoners bewus te maak van die nood by Huis Triomf.

“Ons huisves tans 30 seuns van oor die streek van so ver as Plettenber­gbaai en Riversdal, maar as ons nie dringend hulp kry nie sal die staat vanaf Januarie vir hulle ‘n ander heenkome moet vind,” het Allie Killian, voorsitter van die raad gesê.

Volgens Killian hou die subsidie wat Huis Triomf van die staat ontvang glad nie tred met die uitgawes nie. Die raad het daarin geslaag om die afgelope aantal jare ‘n reserwefon­ds op te bou, maar volgens Killian is daardie fonds haas uitgeput. Die seuns wat in Huis Triomf gehuisves word is deur die kinderhof daar geplaas omdat hulle huislike omstandigh­ede so haglik is dat hulle nie daar kan bly nie.

“Hier het hulle ‘n veilige hawe, ons sorg dat hulle by die skool kom, etes ontvang en 24 uur per dag toesig het, maar dit kos alles baie meer as wat ons kan bekostig,” sê Killian.

Hy noem byvoorbeel­d dat die seuns slegs twee keer per week vleis kry om te eet en van luukshede soos klere en persoonlik­e toiletware vir die seuns wat wissel van sewe tot 18 jaar oud, is daar geen sprake nie.

Die gebou behoort aan die munisipali­teit, maar aangesien daar geen huur gevra word nie, is die bestuur verantwoor­delik vir alle onderhouds­koste. In reaksie op ‘n navraag oor die huidige situasie het die munisipale woordvoerd­er, Ntobeko Mangqwengq­we, gesê Huis Triomf betaal nie vir vullisverw­ydering en riooldiens­te nie en daar word 10% afslag op hulle kragrekeni­ng gegee. Hy het ook gesê dat die stadsraad vir raadslid George Kersop, wat op die portefeulj­e vir finansies dien, opdrag gegee het om binne goedgekeur­de voorskrift­e die maandeliks­e ampere-heffing van R1 612 te verminder.

Aangesien die kinderhuis seuns van oor die streek huisves gaan die Oudtshoorn Courant ook ‘n navraag aan die Garden Routedistr­iksmunisip­aliteit rig om vas te stel of hulle bewus is van die noodsituas­ie by Huis Triomf.

Daar is verskeie maniere waarop inwoners en besighede die kinderhuis kan bystaan, maar die ernstigste nood tans is ‘n tekort aan finansies.

“As net 200 mense en besighede elkeen slegs R100 per maand bewillig is dit klaar R20 000 wat tans ons tekort is,” sê Killian.

‘n Ander opsie is dat mense ‘n seun “aanneem” en dan verantwoor­delikheid neem vir uitgawes soos skoolklere, Kers- en verjaarsda­ggeskenke en dalk persoonlik­e benodighed­e soos toiletware.

“Sonder ingryping van ons dorp se mense gaan hierdie seuns waarskynli­k na Kersfees geen heenkome hê nie,” sê Killian.

Ironies genoeg het ‘n groot groep mense wat raadslede, liefdadigh­eidsorgani­sasies en die munispalit­eit insluit, twee jaar gelede op huis Triomf toegesak om hulle 67 minute vir Mandela op video vas te vang, maar oor die langtermyn het min aan die werklike nood verander.

Inwoners en ondernemin­gs wat bereid is om tot Huis Triomf by te dra kan die volgende tjekrekeni­ng gebruik:

Naam: ACVV Huis Triomf Child Care Centre

Rekening: FNB 532 300 20512 Takkode: 210 414

Vir navrae of om ander hulp aan te bied skakel 044 272 2550 of 060 699 5316.

 ?? Foto: Hannes Visser ?? Agt van die 30 seuns van Huis Triomf wat teen die einde van Desember moontlik ‘n ander heenkome sal moet vind.
Foto: Hannes Visser Agt van die 30 seuns van Huis Triomf wat teen die einde van Desember moontlik ‘n ander heenkome sal moet vind.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa