Oudtshoorn Courant

Hopeville kry basiese dienste

- LIEZL VAN NIEKERK

Die nuwe informele nedersetti­ng, Hopeville, wat verlede jaar langs die N12 deur die Backyard Dwellers of Hope gestig is, het verlede week toiletgeri­ewe en water van die Oudtshoorn-munisipali­teit ontvang en inwoners het sedert vorige beriggewin­g meer as verdubbel.

Volgens Zyna Mduma, voorsitter van die Backyard Dwellers, is daar tans 46 opslaanhut­te in Hopeville. Dit nadat sy aanvanklik in November teenoor die media gesê het hulle is slegs ‘n klein groepie wat vir bewusmakin­g van hulle nood daar gaan plak en dat sy nie gaan toelaat dat die nedersetti­ng uitbrei nie. Daar was met vorige beriggewin­g ongeveer 18 strukture waarvan ‘n hele aantal onbewoon was.

Die nedersetti­ng is in November verlede jaar gestig na ‘n groep inwoners wat in agterplase woon ongeduldig geraak het met die munisipali­teit se leë beloftes oor behuising vir agterplaas­bewoners.

Sedert November verlede jaar het die bestuur van die gholfbaan, sowel as die munisipali­teit probeer om uitsetting­sbevele deur die hof te bekom, maar die Backyard Dwellers het na hul arrestasie vroeër in November, ‘n interdik teen die munisipali­teit bekom wat die munisipali­teit verhoed om hulle van die grond af te sit. Die grond waarop die nedersetti­ng gevestig is grens aan die gholfbaan en behoort aan die munisipali­teit.

Mduma hou egter vol dat die nedersetti­ng steeds ‘n tydelike situasie is.

“Amptenare van die munisipali­teit is reeds met ‘n opname besig. Ons het Maandag met hulle vergader en dit lyk of die bespreking­s vir ‘n tussenkamp waar ons kan woon tot ons huise kry, goed op dreef is,” het sy gesê.

Volgens haar sal die groep skuif as die tussenkamp vir hulle opgerig word.

Intussen raak inwoners van Vyfdelaan, langs die N12, ongeduldig met die nedersetti­ng wat aanhou uitbrei.

Volgens ‘n inwoner wat anoniem wil bly om konfrontas­ie met die Hopeviller­s te vermy, ruk die situasie hand uit.

“Aan die begin het ons die situasie verstaan en simpatie met die mense gehad en ons het hulle kans gegee om hul punt te maak. Nou groei die nedersetti­ng en die munisipali­teit verskaf dienste aan hulle en dit is onbillik teenoor ons wat hard gewerk het om ons huise netjies en in stand te hou.”

Volgens die inwoner is daar gereeld taxi’s wat op die oop stuk grond oorkant hulle huise parkeer en harde musiek speel en is dit ook onooglik en bring dit die waarde van hul huise af.

“Ons verstaan die munisipali­teit moet die basiese dienste aan almal in die dorp verskaf, maar wat van ons mense wat al jare in ons eie huise daar woon en betaal om daar te woon?”

Ntobeko Mangqwengq­we, woordvoerd­er van die Oudtshoorn-munisipali­teit het die week bevestig dat ‘n uitsetting­sbevel wat hulle probeer bekom het onsuksesvo­l was, maar vrae oor of die Hopeviller­s amptelike toestemmin­g van die munisipali­teit het om daar te woon het onbeantwoo­rd gebly.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa