Oudtshoorn Courant

Dysselsdor­ppastoor in Maart verder verhoor

- GARNETT WICOMB

Die verhoor van ‘n pastoor van Dysselsdor­p wat glo ‘n tweeling verkrag het, is verlede week in die Oudtshoorn­streekhof vir verdere getuienis tot 9 Maart uitgestel.

Freddy Jaftha (48) word daarvan aangekla dat hy in 2017 en 2018 seksuele dade met die 18-jarige tweeling gepleeg het.

Jaftha het verlede week getuig dat die twee susters gereeld vir bidsessies na hom gekom het. Hy het ontken dat hy seksueel met hulle verkeer het. Dit was glo hul moeder se versoek dat hy vir hulle moet bid.

Jaftha het onder kruisverho­or behoorlik kleigetrap om op vrae van die staatsaank­laer, adv. Michelle Weyers, te antwoord.

Hy het getuig dat hy al vir 12 jaar as pastoor op Dysselsdor­p werksaam is en die klaers al van geboorte ken. Hulle woon in dieselfde straat. Hy het baie respek vir die klaers gehad en hulle vir hom. Jaftha het die hof na mediese verslae verwys wat tydens sy borgtogaan­soek ingehandig is, en wat glo duidelik op sy onskuld dui.

Weyers het dit aan Jaftha gestel dat hy sy getuienis aanpas en misbruik maak van die Here se Woord.

Hy het ontken dat hy aan die klaers sou gesê het die “vatterighe­id en vryerighei­d” is wat die Here wil hê.

Jaftha het op ‘n vraag van die landdros waarom die klaers na hom gegaan het om vir hulle te bid en agterna klagtes teen hom gelê het, geantwoord dat hy dit ook nie verstaan nie. “My vrou was ‘n jeugleier en ons verhouding met die klaers was goed,” het Jaftha getuig. Hy het vir baie siek mense gebid.

Oor hoekom hy nooit ‘n getuie saamgeneem het wanneer hy vir die tweeling gebid het nie, was Jaftha se antwoord omdat hulle mekaar vertrou het.

Die saak dien voor streekland­dros Daniël Boks en is vir verdere verhoor tot 9 Maart uitgestel.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa