Oudtshoorn Courant

‘n Droom vir kinders

-

Liewe Oudtshoorn,

Ek het ‘n droom. Al vir baie lank. Ek praat nie daaroor nie, want my droom verg deursettin­gsvermoë en dissipline. En dit maak my bang. Alleen kan ek dit nie doen nie.

Ek het mense nodig. Goedhartig­e mense wat die wind onder my vlerke is. Wanneer ek in die aand my oë toemaak droom ek van ‘n gemeenskap­sentrum vir kleuters.

Vir kinders wat in swaarkry-omstandigh­ede grootword. Daar waar ouers bloot nie die vermoë het om na hulle kleingoed om te sien nie. Ek het deernis met mense, veral baie oud en baie jonk. Dié wat hulleself nie kan help nie, wat maklik val en seerkry of erger nog, wat met opset seergemaak word. Ek droom van ‘n plek met baie ruimte, buite-speelplek om rond te hardloop, te lag en te dans. Waar die huppel van ‘n kind jou lagspiere kielie en jou hart vermurwe. Binne is daar gesellige hoekies vir lees en gesels en legkaarte bou. ‘n Veilige hawe teen die innerlike lyding en fisiese seer. ‘n Plek waar daar met simpatie na kinders geluister word, waar ‘n traan met die sagtheid van empatie afgevee word, waar ‘n kindjie met liefde vertroetel en gekoester word. Dis nie ‘n plek vir rigiditeit en vasgesteld­e reëls nie. Dis ‘n plek van vryheid en kind wees. Waar jy nie geklap of geknyp word, omdat trane oor jou wange loop of jy bloot honger is en die krummels van die grond af eet nie. Dis nie ‘n plek van oordeel en kritiek wat lewenslang­e letsels laat nie, maar wel ‘n plek van onskuld en die vryheid om te voel en te doen en te sê sonder voorbehoud. ‘n Plek waar kindertjie­s op hulle eie tyd groot word. In my geestesoog sien ek hoe die sentrum grense oorsteek, waar die klein mensie hier voor jou belangrik word. Jy sien die potensiaal en jy hoor die droom. Dis kleurloos, tydloos en geldloos. Dit leer van omgee en blootstell­ing en dit verryk ‘n kosbare lewe. Dit leer nie een plus een nie, maar asseblief en baie dankie. Dit gee nie ‘n pak slae nie, net ‘n sagte kyk in die oog wat sê: “Ek sien jou raak, ek verstaan, ek wil jou help.” Ek sien hoe opvoeders met woorde toor. Hoe daar gelet word op wat gesê word. Waar goed deurdagte woorde emosies beheer en die kwaad beter maak. Waar dit maklik is om die waarheid te praat en opregtheid te vertrou. En net voor ek my oorgee aan die slaap, sien ek ‘n kind, toegevou in die arms van ‘n vrou. Ek sien die sagte aanraking van haar hand op sy gesig, hoe hy stil word. En ek sien die soen op die deurmekaar hare en die traan op haar wang en ek glimlag.

Hannelie Rix

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa