Oudtshoorn Courant

Pastoor-verhoor gaan voort

- Liezl van Niekerk en Hannes Visser

Die tweede klaer in die verhoor van pastoor Stephanus Olivier, het verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof getuig. Olivier het in Februarie vanjaar onskuldig gepleit op 37 seksuele aanklagte deur twee vroue.

Die aanklagte hou verband met pornografi­e, verkragtin­g en molesterin­g. Olivier, 'n pastoor van die PPK-gemeente op Oudtshoorn, is in 2018 by sy huis in Wesbank in hegtenis geneem. Hy is op 15 Oktober 2018 op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Die eerste klaer het kort na sy pleit getuig. Sy was 13 toe die beweerde voorvalle gebeur het. Beide klaers getuig in camera, maar die hof het aan die media toestemmin­g verleen om in te sit. Die naam van 'n klaer in 'n seksuele misdryf mag nie bekend gemaak word nie.

Die tweede klaer, wat nou 23 jaar oud is, het getuig dat sy 14 jaar oud was toe die beweerde seksuele aanranding­s begin het. Sy het Olivier en sy gesin geken en sy het in detail getuig oor die eerste keer toe Olivier haar na bewering sou molesteer. Volgens haar het dit in sy kantoor gebeur toe hy nog by die Oudtshoorn-munisipali­teit gewerk het. Sy het ook in die hof in detail oor ander molesterin­gs en verkragtin­gsvoorvall­e wat by Olivier se woning gebeur het getuig. Dit het, volgens haar getuienis, gebeur terwyl Olivier se vrou in die dorp was en hulle twee alleen by die huis was. Volgens haar het Olivier haar ook op 'n geleenthei­d in die swembad by sy huis betas en aan haar 'n pornografi­ese film gewys.

Volgens die klaer was sy te bang om enigiemand na aan haar van die verkragtin­gs te vertel omdat sy bang was niemand sou haar glo nie. Volgens haar het hy vir haar geskenke gekoop en wanneer hy dit vir haar gegee het, vir haar gesê dat sy hom iets skuld.

"Ek het geweet waarvan hy praat. Ek het soos 'n hoer gevoel en asof niemand my lief het nie, maar dit net gelos omdat ek gedink het ek kry darem iets uit die deal uit. Ek het hom nooit toestemmin­g gegee vir enigiets wat hy aan my gedoen het nie."

Die klaer het verder getuig dat Olivier op 'n stadium kaal foto's van haar geneem het wat glo deur 'n familielid van Olivier op sy rekenaar gevind is. Volgens haar het die familielid glo Olivier se hand in een van die foto's herken aan die horlosie wat hy aangehad het.

"Hy het gesê ek moet sê dat dit 'n deel van my lyf op die foto is, maar dat dit nie sy hand is nie, net iemand wat dieselfde horlosie as hy het. Ek het dit gedoen omdat ek nie sy familie deur die trauma wou sit nie en nie wou hê hy en sy vrou moet opbreek nie." Volgens haar het Olivier sy rekenaar se hardeskyf laat oordoen na die foto's gevind is.

Die klaer het tydens haar getuienis gesê dat sy gevoel het dat nou die regte tyd was om die klagtes te lê omdat dit wat hy aan haar gedoen het nie reg was nie.

"Ek gaan tot vandag nog nie kerk toe nie omdat dit vir my voel asof al die pastore en dominees soos hy is. Hulle hou hulle heilig, maar by die huis is hulle ander mense."

Kruisonder­vraging

Olivier se regsvertee­nwoordiger, Christo van der Berg, het Vrydag met kruisonder­vraging begin. Hy het veral daarop gefokus dat die klaer in die fynste detail enkele voorvalle kan onthou, maar dat sy glad nie kan onthou wat tydens die ander beweerde voorvalle gebeur het nie. Volgens haar getuienis het die seksuele molesterin­g oor 'n tydperk van bykans drie jaar plaasgevin­d en soms tot vier keer per week. Op herhaalde vrae hoe dit moontlik is dat sy glad nie kan onthou wat in die talle ander beweerde voorvalle gebeur het nie, het sy telkens stilgebly of gesê sy kan dit nie onthou nie. "Ek wou dit agter my sit en daarvan vergeet. Ek weet iets het in die kamer gebeur, maar ek kan nie onthou wat nie," het sy op een vraag geantwoord.

Die getuie het emosioneel geraak toe die hof vir ete verdaag het. Van der Berg het aan die einde van die kruisonder­vraging dit aan haar gestel dat sy gereeld leuens vertel en manipulere­nd is, en dat die voorvalle waaroor sy getuig ook leuens is. Hierop het sy geantwoord dat sy nie die voorvalle versin het nie en dat haar getuienis die waarheid is.

'n Spesialisg­etuie, wat oor die beweerde pornografi­e gaan getuig, kon Maandag nie getuig nie omdat hy weens die Covid-19regulasi­es nie na die Wes-Kaap kon vlieg nie.

Die saak is tot 11 en 12 Junie uitgestel.

 ?? Foto: Hannes Visser ?? Stephanus Olivier ‘n aantal jare gelede toe hy by die munisipalt­eit in diens was.
Foto: Hannes Visser Stephanus Olivier ‘n aantal jare gelede toe hy by die munisipalt­eit in diens was.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa