Oudinwoner sterf 3 dae na verjaarsdag
Katie du Plessis, oudinwoner van Hofmeyr en stigter van Hofmeyr-museum, is die afgelope week net drie dae na haar 94ste verjaarsdag oorlede.
Sy was ten tyde van haar heengaan 'n inwoner in die tehuis vir bejaardes in De Aar. Haar seun Henri en sy gesin het met haar verjaarsdag by haar besoek afgelê.
Katie was die eggenoot van Dup, wat vir baie jare die skoolhoof van Hoërskool Hofmeyr was. Boodskappe van simpatie is deur oudleerders op sosiale media gedeel.
“Tannie Katie het jaarliks voor die matriekeindeksamen alle matrikulante na hul tuiste, die dubbelverdiepinghuis in Voortrekkerstraat, genooi.
Daar is 'n deftige dinee aangebied,” vertel 'n oudleerder.
Tilla Olivier vertel dat sy by tannie Katie aangetrek het voor haar huweliksbevestiging. Foto’s is ook daar geneem. Talle bruide het deur die jare daar aangetrek.
Sy word onthou as 'n presiese vrou, wat altyd respek afgedwing het en volgens etiket opgetree het. Tydens haar verblyf in die dubbelverdiepinghuis, met solder, het sy menige toeris vertel van haar woning en die dorp se geskiedenis. As eienaar van Henka Geskenke, het sy deur die jare geskenke asook 'n reeks baba-, kinderen volwasse deftige uitrustings verkoop. “Sy was 'n puik verkoopsvrou,” vertel Helena Otto, en daarvan kan almal getuig wat 'n draai in haar winkel gemaak het.
Sy het vanaf Hofmeyr verhuis na die Elizabeth Jordaantehuis op Cradock, en is daarvandaan na die aftreeoord op Aberdeen, en het ook later vandaar verhuis.
Sy het ook die geskiedenis van Hofmeyr neergepen, en die geskrifte is tans in die besit van die Hofmeyr VLV in wie se sorg die museum nagelaat is.
Sy word oorleef deur haar twee seuns en hul gesinne.