Eienaar van veghond onder huisarres
‘n Man wat sy Amerikaanse veghond aangehits het om 'n 15-jarige seun te byt, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof aan aanranding om ernstig te beseer skuldig bevind en vir lank onder huisarres geplaas.
Howard du Plessis (44) se veghond het op 9 Februarie vanjaar vir Angelo Pikaan in Saturnusstraat, Toekomsrus, voor sy bors en aan die hand gebyt voordat hy daarin geslaag het om weg te kom.
Die seun het getuig dat hy in die straat op ‘n klip gesit het toe die beskuldigde met sy hond by hom verbygestap en vir die hond gesê het ”Sa!”. Die hond het glo al voorheen ook drie familielede van Pikaan gebyt.
Du Plessis het die seun se weergawe ontken en aangevoer dat die hond losgeruk het toe hy met ‘n klip na die hond gegooi het.
Streeklanddros Daniel Boks het sy weergawe as vals verwerp en die seun as ‘n betroubare getuie beskryf.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het die hof gevra vir ‘n korrektiewe toesig vonnis en ’n vergoedingsbevel vir die onkoste wat die seun se moeder moes aangaan.
Die hond kon volgens Arnolds die kind doodgebyt het.
"Daar is gereeld koerantberigte van pit bulls wat kinders doodbyt en eienaars wat deur hul eie pit bulls aangeval word. Mense wat pit bulls aanhou moet groter sorg toepas," het sy gesê.
In die geval het die seun gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.
Du Plessis se regshulpprokureur, Cindy Murray-Smith, het ter versagting van vonnis die hof versoek om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van 10 jaar omdat daar wel omstandighede bestaan om dit te doen.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê die beskuldigde moes geweet het dat ‘n veghond ‘n gevaarlike hond is.
"Wanneer jy ‘n hond aanhou moet dit wees omdat jy lief is vir honde en nie om ander mense seer te maak nie."
Die landdros het egter bevind dat ‘n vonnis van tien jaar skokkend sal wees en hy nie van die beskuldigde ‘n voorbeeld wil maak nie. Hy is gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, asook drie jaar korrektiewe toesig wat behels 24 uur per dag onder huisarres vir die volle tydperk.
Verder is ‘n vergoedingsbevel gelas wat bepaal dat hy ’n bedrag van R1 000 aan die moeder van die seun te betaal vir mediese en ander uitgawes wat sy moes aangaan. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Mense wat pit bulls aanhou moet groter sorg toepas.