Oudtshoorn Courant

‘Ek het Covid oorwin’

- LIEZL VAN NIEKERK

"Ek het Covid-19 oorwin en ek wil hê mense moet weet dit is nie siekte waarmee mens speel nie en dit is regtig daar. Mense moet dit nie so ligtelik opneem nie."

Dit is die boodskap van Hans Stoffels (61) na hy 'n maand in die hospitaal met Covid-19 was.

Stoffels is die pa van Stephany Stoffels, die 28-jarige vrou wat 'n maand gelede aan nierversak­ing gesterf het.

Stoffels was ten tyde van sy dogter se dood in die hospitaal en kon ook nie haar begrafnis bywoon nie.

"Dit is iets wat ek vir niemand kan beskryf nie. Ek was opgeneem oor 'n nierpypinf­eksie en skielik diagnoseer hulle my met korona. Ek kon nie asemhaal nie. Hulle het my op suurstofma­sjiene gehad. Ek het gehoor hoe sê die personeel by die hospitaal hulle dink nie ek gaan dit maak nie."

Stoffels sê van sy simptome was kortasem, lyfseer en hoofpyn.

"Die dokters het in die hospitaal vir my kom sê dat Stephany oorlede is, maar ek het nie op daardie stadium besef nie. Ek het bly glo sy is steeds in George-hospitaal. My vrou het na ek ontslaan is by my gesit en vir my gesê ons kind is dood. Ek wil hê mense moet verstaan dat die siekte nie speletjies is nie. Ek het geen chroniese siektes soos diabetes of bloeddruk of asma nie. Ek was 'n gesonde man. Ek het by die dood omgedraai. Dra julle maskers as julle rondloop."

Stoffels sê ook dit is nie nodig dat mense 'n stigma koppel aan die siekte nie.

"Die probleem is, as mense nie praat oor die siekte nie, dan gaan niemand weet wie het dit nie. Dis nie 'n skande om dit te hê nie. Dit maak nie van jou 'n beter of 'n slegter mens nie. Inteendeel. Jy kan iemand se lewe red deur eerder eerlik te wees oor jou Covid-status as om dit weg te steek."

 ??  ?? Hans Stoffels
Hans Stoffels

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa