Oudtshoorn Courant

Polisie herstel bejaarde se huis

- LIEZL VAN NIEKERK

Polisiebea­mptes van die Dysselsdor­p-polisiesta­sie het in hul vrye tyd en uit hul eie sakke 'n bejaarde vrou se huis, wat in 2012 bykans afgebrand het, herstel.

Katrina Blouw (72), sê die Here het voorsien en omgeemense na haar gestuur om haar huis reg te maak.

"My huis het agt jaar gelede amper tot op die grond afgebrand. Niemand weet hoe die brand ontstaan het nie. Ek en my man het in 'n opslaanhok gewoon, maar dit het bly kantel. Ons is bejaarde mense. Ons het siek geraak en koud gekry in die hok en het laas jaar weer in die huis ingetrek. Toe kom sit die munisipali­teit vir ons krag in, maar die huis was vol krake waardeur die wind gewaai het en dit het ingereën. Die huis het nie vensters gehad nie en die deur het ook gate in gehad. Die mure was pikswart van die roet."

Volgens haar raak haar hart seer as sy aan die goeie daad dink.

"Hulle is regte barmhartig­e samaritane. Vir agt jaar het niemand omgegee oor my omstandigh­ede nie en mense wat my nie eens ken nie het gekom en my gehelp. My hart raak sommer seer as ek daaraan dink."

Blouw sê sy woon nou saam met haar man, drie seuns en kleindogte­r in die huis.

Kaptein Joey Strydom, bevelvoerd­er van die Dysselsdor­p polisiekan­toor, sê sy het op 'n vergaderin­g van Blouw se situasie gehoor.

"Ons het 'n organisasi­e, Dare to Care, wat omsien na die bejaardes in die gemeenskap. Johanna Smit, die voorsitter van die organisasi­e, het my ingelig en ek het met die personeel by die stasie gepraat. Ons het net voor die inperking met die huis begin en verlede maand klaargemaa­k. Ons het almal skenkings gemaak, die een het teëls gegee en 'n ander een het verf gegee en verder het ons geld uit ons eie sakke bygedra en vetkoeke verkoop om die tannie se huis reg te maak."

Strydom sê om die gemeenskap te dien is hulle werk, of hulle nou aan diens of van diens af is.

"Ons het gegaan soos ons 'n tydjie gehad het en die lede af was. Soms het hulle van skofte afgekom en was moeg, maar hulle het geweet hulle doen dit vir 'n groeie doel. Ek is trots op die werk wat hulle gedoen het en die feit dat ons iemand in nood kon help."

Hulle het die huis heeltemal oorgeverf, nuwe vensters en deure ingesit en ook gesorg dat daar nuwe gordyne in die huis is.

"Ons personeel het ook klere en kos geskenk."

Smit sê sy is vreeslik opgewonde oor die herstel van die huis.

"Dit is werklik mense wat dit verdien. Tannie Katjie, soos ons haar noem, het groen vingers en is so lief vir tuin maak. Dit was bitter hartseer om te sien dat sy so hard aan haar tuin werk en die huis lyk so verniel. Sy het die mooiste lemoenboom en sy deel so graag lemoene vir die kinders uit. Die personeel van die polisiesta­sie het fantasties­e werk gedoen."

 ??  ??
 ??  ?? Sandra Minne het ook handjie bygesit om die huis reg te maak.
Katrina en haar man Jan voor hul huis op Dysselsdor­p.
Sandra Minne het ook handjie bygesit om die huis reg te maak. Katrina en haar man Jan voor hul huis op Dysselsdor­p.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa