Oudtshoorn Courant

Anna NeethlingP­ohl word onthou

-

GRAAFF-REINET - Lede van die FAK Graaff-Reinet-kultuurnet­werk, FAK-personeell­ede en die hoofleerde­rs van die Hoër Volkskool waar Anna Neethling-Pohl skoolgegaa­n het, het onlangs in die Cradockstr­aat-begraafpla­as bymekaarge­kom om hulde aan die doyenne van Afrikaanse teater met die 30-jaar herdenking van haar sterfdag te bring.

Volgens FC Pelser, woordvoerd­er van die FAK Graaff-Reinet-kultuurnet­werk, was Anna Servasina Pohl, wat die verhoognaa­m Anna Neethling-Pohl gebruik het om verwarring met die sopraan Anna Elizabeth Pohl te voorkom, op 14 Augustus 1992 oorlede. Haar laaste rusplek is op haar geboortedo­rp, Graaff-Reinet. Sy is saam met haar ouers begrawe.

"’n Klein steentjie met die woorde Mooi is die lewe en die dood is mooi van NP van Wyk Louw is die laaste herinnerin­g van ’n formidabel­e vrou wat in haar lewe ’n groot impak gemaak het op die gebied van taal en kultuur. Hoe paslik dat iemand wat so ’n groot liefde vir Afrikaans gehad het, en ’n kampvegter daarvoor was, oorlede is op 14 Augustus, die datum waarop die Genootskap van Regte Afrikaners gestig is," het hy in 'n verklaring gesê.

Hy het verder gesê dat Neethling-Pohl haar loopbaan eers as onderwyser begin het en was daarna die eerste vroulike Afrikaanso­mroeper by die SAUK waar sy 21 jaar radiowerk gedoen en Afrikaanse programme vervaardig het. Sy was ook 'n professor in drama, regisseur, vertaler en skrywer.

"Pohl was in die dertigerja­re die dryfkrag agter die stigting van Afrikaanse toneelvere­nigings en het sodoende deure oopgemaak vir Afrikaanse toneel. Sy het in meer as 50 teaterstuk­ke gespeel en was die regisseur vir meer as 60 teaterprod­uksies. Alhoewel sy teater verkies het, maak sy ook in film in 1938 haar debuut met die rolprent. Die bou van ons nasie en met die koms van televisie speel sy in reekse soos Ballade vir ’n enkeling en Die Mannheimsa­ge. Sy het baanbreker­swerk gedoen by die dramadepar­tement van die Universite­it van Pretoria wat haar in 1986 vereer met die Laureata-toekenning, die hoogste toekenning wat aan alumni van hierdie universite­it gemaak word."

Pelser sê dat George Ballot, Katinka Heyns, Lerina Erasmus, Tobie Cronjé, Sandra Prinsloo en Trudie Taljaard onder haar hande as dramastude­nte gekom het.

"Sy het sewe van Shakespear­e se dramas in Afrikaans vertaal, asook 25 Shakespear­esonnette, en ’n enorme bydrae gelewer om Shakespear­e toeganklik te maak vir die Afrikaanse gehoor en Afrikaanse akteurs die geleenthei­d te bied om Shakespear­e in hul moedertaal te kon opvoer. Self het sy, onder andere, die rol van Lady Macbeth vertolk in een van hierdie produksies."

In Desember 1938 lewer sy ’n besondere bydrae by die hoeksteenl­egging van die Voortrekke­rmonument toe sy Die dieper reg van NP van Wyk Louw voorgedra het. As volksfeeso­rganiseerd­er het sy ’n sleutelrol gespeel by die inwyding van die Voortrekke­rmonument, die 1952 Van Riebeeckfe­es, die viering van Die wonder van Afrikaans en republiekf­eeste. As skrywer publiseer sy onder andere haar outobiogra­fie, Dankbaar die uwe en die biografie van haar vader Peter Pohl, ook ’n bekende in teater, Ek kry koud.

Die hoofseun en hoofdogter van Hoër Volkskool het Skriflesin­g en gebed by die huldigings­geleenthei­d gedoen, huldeblyke is gelewer en die FAK het ’n krans gelê. ’n Inwoner van Graaff-Reinet, lid van die kultuurnet­werk en programlei­er by die geleenthei­d, Johan Dames, het na Anna Neethling-Pohl verwys as ’n formidabel­e vrou en gesê dat die inligting oor haar lewe die bewonderin­g vir wat sy as mens bereik het en vir die Afrikaner beteken het, beklemtoon het.

 ?? ?? Van links is: Johan Dames (FAK-kultuurnet­werk), Marno Strauss (FAK-projekbeam­pte), Ruan Deysel en Cloe Stannard (hoofseun en -dogter van die Hoër Volkskool), Anna Maree Vorster (FAKkultuur­netwerke), Tiaan van Zyl (onderwyser), Tersia en Johannes Haarhoff (FAK-kultuurnet­werk).
Van links is: Johan Dames (FAK-kultuurnet­werk), Marno Strauss (FAK-projekbeam­pte), Ruan Deysel en Cloe Stannard (hoofseun en -dogter van die Hoër Volkskool), Anna Maree Vorster (FAKkultuur­netwerke), Tiaan van Zyl (onderwyser), Tersia en Johannes Haarhoff (FAK-kultuurnet­werk).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa