Oudtshoorn Courant

Vrou sterf gru-byldood in haar huis

- WYNDHAM EWERTS

Die afgryslike nuus verlede Donderdag op Oudtshoorn Courant se Facebook-blad dat Shirley Witbooi (64) deur haar man, Karel Witbooi, dood in 'n plas bloed in hul huis in Smartie Town (Sipho Cromastraa­t) aangetref is, het skokgolwe deur die gemeenskap van Oudtshoorn gestuur.

Volgens Witbooi, wat in 'n rolstoel is, was hy die betrokke dag nie by die huis nie en het hy die liggaam ongeveer 18:45 ontdek.

"Gewoonlik gaan kuier ek deur die dag oor die pad by vriende en kom loer dan so nou en dan by die huis in. Donderdag was die krag van die oggend sesuur tot die aand sesuur af en dis hoekom ek besluit het om eers later huis toe te gaan toe die krag aan was. Met die intrapslag het ek dadelik opgemerk dat iets fout is, want die ligte was af en die voordeur was nie gesluit nie. Toe ek met my rolstoel in die huis ry, het ek op my vrou afgekom waar sy onder bloed lê. Ek was erg geskok en het dadelik die polisie gebel."

Volgens Witbooi was sy seun die enigste persoon tuis saam met sy ma ten tyde van die grusame voorval, maar het hy terselfder­tyd 'n pleidooi gerig dat geen gevolgtrek­kings gemaak moet word nie. Witbooi het ook aan Oudtshoorn Courant bevestig dat sy seun dieselfde aand deur die polisie in hegtenis geneem is.

Navrae aan die Oudtshoorn-polisie het bevestig dat ‘n 29-jarige man dieselfde dag op aanklag van moord gearrestee­r is.

"Die polisie het ‘n oproep ontvang van ‘n vrou met bylwonde in haar woning. Sy het verskeie wonde aan haar liggaam gehad en het op die vloer in die huis gelê. Met die polisie se aankoms op die toneel, is die 64-jarige vrou dood verklaar," lui die verklaring van die polisie.

Gerugte dat die verdagte wat in hegtenis geneem is, glo oor die naweek in die selle probeer selfmoord pleeg het, kon nie deur die polisie bevestig word nie.

Die bure het Shirley Witbooi as 'n opgewekte mens beskryf wat geen vlieg sou seermaak nie.

"Sy was altyd vol grappies en sou altyd geselsies aanknoop. Dis regtig vir my vreemd dat niemand in die pad haar noodkrete gehoor het nie, want sy het 'n duidelike herkenbare stem gehad. Gewoonlik word daar musiek in die pad gespeel, maar die krag was mos heeldag af, so dit was doodstil en dis wat dit nog vreemder maak dat niemand iets gehoor het nie."

Volgens die Witbooi-familie is geen begrafnisr­eëlings nog getref nie.

 ?? ?? Shirley Witbooi. Foto verskaf
Shirley Witbooi. Foto verskaf

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa