Oudtshoorn Courant

Twee ontken skuld in poging tot moord saak

- GARNETT WICOMB

OUDTSHOORN - Die verhoor van twee mans van Bridgton in Oudtshoorn, wat van poging tot moord aangekla word na ‘n voorval meer as vyf jaar gelede in Hectorstra­at, Bridgton, is Vrydag in die streekhof vir nog drie dae se verhoor tot 14 Desember uitgestel.

Clayton Wagner (26) en Damian Matthews (27) word daarvan aangekla dat hulle die aand van 13 Mei 2017 vir Bertram Pietersen met ‘n panga gekap, geskop en op hom getrap het. Hulle ontken dit.

Bronwynne Swartbooi het getuig dat hy voor ‘n winkel in Hectorstra­at gesit en gesien het hoedat Pietersen deur die twee beskuldigd­es en nog drie mans aangerand is. Volgens hom was dit Wagner wat Pietersen met die kapmes gekap het, dit toe neergegooi en almal weggehardl­oop het.

Mariaan Swartbooi het egter Vrydag getuig dat dit Matthews was wat Pietersen met die kapmes gekap het. Volgens haar was daar vroeër die aand ‘n woordewiss­eling tussen Wagner en Pietersen.

Sy het ook gesien dat die beskuldigd­es en hul vriende ‘n kapmes en stok in ‘n pakkamer gaan haal het. Nadat Matthews vir Pietersen met die kapmes gekap het, het hy geval. Terwyl hy op die grond gelê het, is hy met die stok geslaan waarna sy aanvallers weggehardl­oop het. Sy en twee vriende het met klippe na Pietersen se aanvallers gegooi en hulle het teruggegoo­i.

Die beskuldigd­es se regsvertee­nwoordiger, Lourens Swanepoel, het dit aan Swartbooi gestel dat sy ‘n storie opmaak en haar weergawe verskil van die weergawe van Bronwynne Swartbooi.

Volgens Swanepoel sal die beskuldigd­es ontken dat hulle vir Pietersen aangerand het. Hulle het glo eers die volgende dag daarvan gehoor.

Die saak word deur streekland­dros Ntsoki Moni aangehoor.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa