Oudtshoorn Courant

Oudtshoorn-man probeer polisiebea­mpte omry

- GARNETT WICOMB

OUDTSHOORN - Die saak teen ‘n man van Oudtshoorn, wat van poging tot moord, roekelose en/of nalatige bestuur en bestuur sonder ‘n rybewys aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak uitgestel tot volgende jaar.

Vernon Damakwa (34) het glo op 30 Mei 2019 naby die Bongolethu-polisiesta­sie probeer om ‘n polisiebea­mpte om te ry wat hom gewys het om stil te hou nadat die polisie inligting ontvang het dat daar dwelms in sy VW Citi Golf is. Hy is agternages­it en in Dassieweg in hegtenis geneem nadat hy die voertuig tot stilstand gebring en probeer weghardloo­p het.

Damakwa pleit skuldig op die aanklagte van roekelose en/of nalatige bestuur sowel as die aanklag van bestuur sonder ‘n geldige rybewys, maar onskuldig op die aanklag van poging tot moord.

Konst. Jacques van Zyl het getuig dat Damakwa by die stopstraat stilgehou het en daarna teen ‘n vaart op hom afgepyl en hom sou doodgery het as hy nie uit die pad gespring het nie.

Volgens hom het Damakwa aan die verkeerde kant van die pad gery en aankomende verkeer moes wegswaai om botsings te voorkom. Hy moes met die hulp van omstanders ‘n beseerde persoon help om onder die voertuig uit te kom.

Volgens nog ’n polisiebea­mpte, ao. Anton Nel, het hy in ‘n polisievan­gwa oorkant die pad gesit en gesien hoedat sy kollega moes wegspring om nie raakgery te word nie.

Volgens Damakwa se regsvertee­nwoordiger, adv. Benito Metembo, het Van Zyl nie voor sy kliënt in die pad gestaan nie. Hy sal erken dat hy vinnig gery het, maar nie aan die verkeerde kant van die pad nie. Volgens hom was dit die polisie wat aan die verkeerde kant van die pad gery het om hom te probeer keer.

Die staatsaank­laer, Brandon Smith, vra die hof vir skuldigbev­inding op al die aanklagte terwyl Metembo vir sy vrylating vra omdat die weergawes van die twee polisiebea­mptes hemelsbree­d verskil en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.

Die saak dien voor streekland­dros Sylvia Mandla en is vir uitspraak uitgestel tot 6 Februarie 2023.

Damakwa pleit skuldig op die aanklagte van roekelose en/of nalatige bestuur sowel as die aanklag van bestuur sonder ‘n geldige rybewys.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa