Oudtshoorn Courant

Man voor dogter aangeval

- LIEZL VAN NIEKERK

OUDTSHOORN - 'n Man wat Maandagogg­end saam met sy agtjarige dogtertjie skool toe gestap het, is gelukkig om te leef na hy deur 'n onbekende man in Baron van Reedestraa­t met 'n mes aangeval is.

Mario Pretzer vertel dat hy oudergewoo­nte saam met sy dogtertjie skool toe gestap het.

"Ons het verby 'n man geloop wat die heeltyd sit en vloek het. Ek het vir my dogtertjie gesê sy moet net aanstap en dit ignoreer. Toe ons by die woonstelle op die hoek van St. Savour en Baron van Reedestraa­t kom, het ek skielik gevoel hoe iemand se hand in my gatsak probeer grou en toe is dit dieselfde man."

Petzer sê hy het sy dogter gevra om eenkant toe te staan en hy en die onbekende man het toe in 'n geveg op die sypaadjie betrokke geraak.

"Ek het net geweet ek moet my kind beskerm. Ons almal bid mos maar dat ons kinders nooit in sulke situasies betrokke sal wees nie, maar ongelukkig was sy by."

Petzer sê die booswig kon niks by hulle steel nie en hy het ook nie ernstig seergekry nie. "Dit is net my een vinger, maar ek is so bang dat die insident emosionele merke op my kind gaan los."

Tanya Pretzer, Pretzer se vrou, sê dit is die derde keer die jaar wat so iets met hulle as gesin gebeur.

"My man is so 'n paar maande terug voor Capitec in Hoogstraat beroof. Toe is al ons huurgeld gesteel. Ek is ook in die jaar met 'n mes gedreig. Ons dorp is eenvoudig nie meer veilig nie."

Die egpaar deel hulle storie sodat die gemeenskap bewus kan wees van hoe groot die misdaadpro­bleem in die dorp werklik is. "Mense moet wakker wees as hulle in die dorp loop, veral met kinders. Enigiemand kan 'n teiken wees.

“Ons lees en hoor deesdae van so baie mense wat aangeval word, ek hoop die storie bereik die regte mense." Volgens haar is klagtes by die polisie aangemeld, maar is niemand tot dusver in hegtenis geneem nie.

Volgens AO. Gretchen Michaels, woordvoerd­er van die Oudtshoorn-polisie, word geen klag tans ondersoek nie.

 ?? ?? Mario en Tanya Pretzer
Mario en Tanya Pretzer

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa