109 medaljes vir getroue lede
“Die Tuinroete-distrikspolisie sal nie toelaat dat kriminele die streek oorneem nie.” So het die distrikskommissaris, genl. maj. Norman Modishana, verlede Woensdag tydens die eerste medaljeparade na sy aanstelling in Junie verlede jaar gesê.
Altesaam 109 polisielede van die Suid-Kaap en Sentraal-Karoo het by die geleentheid medaljes ontvang vir jare lange getroue diens in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
68 lede het medaljes vir 10 jaar diens ontvang, 17 vir twintig jaar en 24 vir dertig jaar.
Die burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit,
Memory Booysen, asook die stasiekommissarisse van George en Oudtshoorn, brig. NPJ Michaels en brig. Susan Crafford, was onder die eregaste wat die geleentheid bygewoon het.
Die Tuinroete-distrikskommissaris,
genl. maj. Norman Modishana, het die ontvangers gelukgewens met hul prestasies oor die jare en klem gelê op die belangrikheid van die polisie se rol in die samelewing.
Hy het die ontvangers ook versoek om voort te gaan met hul goeie werk en taak om die gemeenskap te dien. Voorts het hy beklemtoon dat die polisie nie sonder die samewerking van gemeenskappe kan funksioneer nie en gewaarsku dat die Tuinroete-distrikspolisie nie sal toelaat dat kriminele die streek oorneem nie.
Die parade by die SAPD Akademie in Oudtshoorn is opgehelder deur ‘n voortreflike drilvertoning deur die Tuinroetedrilpeloton en musiek verskaf deur die WesKaapse polisieorkes.
Behalwe polisielede het vyf administratiewe beamptes ook medaljes vir jare lange getroue diens ontvang.