Verskeie bekroonde produksies by KKNK
Teaterliefhebbers kan uitsien na verskeie bekroonde teaterproduksies van feeste regoor Suid-Afrika wat by die KKNK te sien is.
Die 28ste KKNK word van Saterdag 23 tot Sondag 31 Maart in Oudtshoorn aangebied.
Vier produksies wat in 2023 na afloop van die Toyota US Woordfees in Stellenbosch bekroon is, is op pad na die Klein-Karoo.
Die vegetariër met Tinarie van Wyk Loots, Wilhelm van der Walt, Eben Genis en Melissa Myburgh, onder regie van Jaco Bouwer, is ’n vertaling en verwerking deur Willem Anker, van Han Kang se
The Vegetarian. Dié drama is bekroon met die Woordtrofee vir beste prestasie: tegnies én beste toneelstuk by die Toyota US Woordfees in 2023. Dit is ’n Toyota US Woordfees-produksie, ondersteun deur NATi en die speelvak word moontlik gemaak deur die KKNK.
Sandra Prinsloo is bekroon as beste speler (vroulik) vir haar rol in Master Class, ’n rol waarin sy skitter as operadiva Maria Callas tydens haar swanesang in die jare sewentig, die slotbedryf van haar lewe. Saam met haar op die verhoog is Siphamandla Moyake, Alida Scheepers, Tylor Lamani, Elisabeth Manduell en José Dias van Kaapstad Opera. Dit is ’n verwerking van Terrence McNally se Tony-bekroonde toneelstuk en is in 2023 opgevoer om saam te val met die herdenking van Callas se geboorte 100 jaar gelede. Die produksie is oorspronklik aangebied in samewerking met Pieter Toerien Produksies.
Kim Blanche Adonis is bekroon vir beste prestasie: solo vir haar spel in My Fellow South Africans, met teks en regie deur Mike van Graan. Dit is ’n versameling sketse waarin satiriese kommentaar in die tradisie van die gewilde en bekroonde Pay Back the
Curry, Bafana Republic en State Fracture gelewer word met komedie, sang, digkuns, fisieke teater en karaktersketse. Die stuk is ontwikkel met die ondersteuning van Artscape en die Universiteit van Johannesburg.
Byster, met Lara Hattingh is bekroon vir beste prestasie: Fringe. Byster vertel die storie van ’n oningeligte, naïewe jong vrou wat sukkel om deur die diep waters van 2023 te kom. In ’n versameling oënskynlik lukrake stories vertel sy kaalvuis wat sy dink.
Goed wat wag om te gebeur is na afloop van Momentum Beleggings Aardklop in 2023 as beste nuutgeskrewe Afrikaanse teks bekroon. Die teks is geskryf deur Philip Rademeyer, wat ook die regie hanteer, met Antoinette Kellermann, Gideon Lombard en Emma Kotze op die verhoog. Die stuk vertel die storie van Hendrik wat na 15 jaar terugkeer na sy verlate ouerhuis, waar die familie se geheime en geskiedenis in die lug hang. Goed wat wag om te gebeur is ook benoem vir drie Woordtrofeë by die Toyota US Woordfees in 2023. Dit is ’n Momentum Beleggings Aardklop en Toyota US Woordfees ko-produksie, ondersteun deur NATi. Die speelvak word moontlik gemaak deur die KKNK.
Kellermann is ook benoem vir ’n kykNET Fiësta as beste vroulike byspeler vir haar rol.
kykNET Fiëstas-genomineerdes ook by KKNK
Verder tot hierdie reeds bekroonde produksies en nominasies, is verskeie genomineerdes vir kykNET Fiëstas ook in Oudtshoorn te sien. Die wenners word op 7 Maart in Kaapstad aangewys.
Braam en die engel, vervaardig deur die KKNK vir Momentum Beleggings Aardklop en ondersteun deur AK21 en NATi, het vyf nominasie ontvang. Dié familieproduksie met Joanie Combrink, De Klerk Oelofse, Rehane Abrahams, Marelize Viljoen en Shaun Oelf, onder regie van Nico Scheepers, is benoem vir beste regie (Scheepers), beste teaterontwerp (Scheepers en Nell van der Merwe), beste feesproduksie (debuut by Momentum Beleggings Aardklop), beste ensemble en beste kinderof opvoedkundige produksie. Dit is ’n verwerking van die geliefde kinderboek deur Marietjie de Jongh, as ’n magiese, multidissiplinêre teaterervaring vir die hele gesin. Braam en die engel het ook vier nominasies vir Woordtrofeë by die Toyota US Woordfees in 2023 ontvang.
Die vegetariër het drie kykNET Fiëstanominasies ontvang: beste regie (Jaco Bouwer), beste teaterontwerp (Bouwer) en beste feesproduksie. Frank Opperman is genomineer as beste akteur vir sy spel in Reünie en Dana Snyman is genomineer vir beste nuutgeskepte Afrikaanse teks, verwerking of vertaling vir dieselfde komedie.
De Klerk Oelofse behartig die regie. Reünie is ’n Innibos-produksie, ondersteun deur NATi en was ’n topverkoper by Innibos, Momentum Beleggings Aardklop en Toyota US Woordfees in 2023.
Eldon van der Merwe is genomineer as beste akteur vir sy spel in Fietsry vir dommies. Dit is ’n Suidoosterfees-produksie, ontwikkel met die ondersteuning van NATi, die Kunstekaap en die Jakes Gerwel Stigting en oorspronklik voorgelê by die eerste Teksmark Oudtshoorn in 2021, geskryf deur Oudtshoorniet, Tiffany Saterdaght.
Kinderteater
Onder kinderteater, wat ’n splinternuwe tuiste in Feesmark se Klein KKNK-teater kry, tel Die rooi ballon, wat in 2023 ’n Silwer Ovation-prys by die Nasionale Kunstefees gewen het. Die bekroonde Craig Morris en Casey Sewbaran is op die verhoog te sien, met regie van hierdie bewegingsteaterstuk deur Toni Morkel.
Kosblik, ’n komedie ontwikkel deur die Laerskool Durbanville, met leerlinge van dié skool op die verhoog, is ’n komedie wat kyk wat gebeur wanneer kositems in kosblikke stemme kry. Christie van Niekerk het die teks geskryf en dié stuk het verskeie pryse en benoemings gekry by die Tygerbergeisteddfod, die Parel Vallei Playhousedramafees en die Montagu Nasionale Jeugkunstefees, waaronder vir beste regie en beste byspeler.
Program
Die volledige feesprogram is aanlyn beskikbaar by www.kknk.co.za en kaartjies is beskikbaar by Webtickets. Vir meer inligting, hou die KKNK se sosiale media dop, besoek die webblad of kontak 044 203 8600, stuur ’n e-pos na info@kknk.co.za of ’n WhatsApp na 065 285 2337.