Saak teen Rooiheuwel-boer in Maart voortgesit
Die verhoor van George Schneigansz (48), ‘n boer in die Rooiheuwel-omgewing buite Oudtshoorn wat teregstaan op drie aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van die beskuldigde vir verdere getuienis tot 25 Maart uitgestel.
Schneigansz word daarvan aangekla dat hy op 15 November 2021 op drie tieners, twee van 12 en een van 13 jaar, met ‘n verfbalgeweer (paint ball-gun) geskiet het. Hulle het in ‘n dam op sy plaas geswem.
Schneigansz erken dat hy “in die rigting” van die kinders geskiet het omdat hulle klippe na hom en sy voertuig gegooi het, en hy hulle net wou skrikmaak. Hy het ook getuig dat hy nie die betrokke dag kwaad was nie en hy het bygevoeg dat dit onhigiënies is om in die dam te swem.
Volgens hom maak ‘n verfbalgeweer net ‘n bloukol op jou lyf en het hy nog nooit gesien dat dit ernstige beserings veroorsaak nie. Die geweer word vir ‘n sekere sportsoort gebruik.
Oor die beserings wat een van die seuns opgedoen het, het hy getuig dat dit moontlik veroorsaak is deur die draadheining waaroor die kinders gespring het of iets wat in die dam was.
Die staatsaanklaer, Nadia Arnolds, het dit aan Schneigansz gestel dat die kinders eers begin klippe gooi het nadat hy op hulle geskiet het. Sy wou ook van hom weet waarom hy nie na die polisie gegaan het om klagtes teen die kinders te gaan lê nie.
Scheingansz het hierop geantwoord dat hy wel die polisie gebel het, maar dat hulle nooit opgedaag het nie.
Scheingansz se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof om uitstel gevra vir nog twee getuies wat die verdediging wil roep. Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor.