Chad Louw bedank, sluit aan by PA
Die tonge klap behoorlik nadat dit Maandag aan die lig gekom het dat Chad Louw, ANC-raadslid en voormalige burgemeester van Oudtshoorn, sy bedankingsbrief aan die ANC oorhandig het en hom intussen by die PA (Patriotic Alliance) aangesluit het.
Louw, boorling van Dysselsdorp, het in 2021 landswyd opslae gemaak toe hy op 24-jarige ouderdom as die jongste burgemeester in die geskiedenis van Oudtshoorn ingehuldig is.
Louw was ten tyde van sy bedanking ook die ANC se streekvoorsitter asook SALGA (South African Local Government Association) se provinsiale voorsitter.
Louw het in sy bedankingsbrief aangedui dat alhoewel hy dankbaar is vir die geleenthede wat die ANC hom gebied het, sy persoonlike lewensreis hom noodsaak om 'n paadjie te stap wat hom in staat sal stel om koers te hou by sy persoonlike oortuigings en ideale.
"Hierdie besluit is nie ligtelik geneem nie, maar dit spruit voort uit 'n weerspieëling van ontevredenheid, behoefte aan persoonlike groei en 'n begeerte om in verskillende hoedanighede by te dra. Ek glo dat deur weg te stap, ek beter kan fokus op pogings wat meer aanklank vind by my waardes, aspirasies en toewyding tot positiewe verandering. Ek wil graag my opregte dank betuig aan elke individu met wie ek die voorreg gehad het om binne die ANC te werk. Die bande wat gesmee is en lesse wat geleer is, is van onskatbare waarde, en ek dra hulle vorentoe na die volgende hoofstuk van my reis."
Volgens Louw gaan die PA binnekort 'n persverklaring aan die media vrystel waarin sy nuwe rol bevestig sal word.
Streekwoordvoerder van die ANC, Moyisi Magalela, het via 'n verklaring Louw se bedanking uit ANC-strukture bevestig en gesê dat sy bydraes die afgelope paar jaar hoog op die prys gestel word.
Hannes Visser, woordvoerder van die burgemeester Chris Macpherson, het gesê dat hulle teen Woensdag nog nie Louw se bedankingsbrief ontvang het nie. “Die burgemeester bedank Chad Louw namens die raad vir sy termyn wat hy gedien het en wens hom sterkte toe op sy pad vorentoe.”