Oudtshoorn Courant

Sydney Berry in nog ‘n ongeluk betrokke

- LIEZL VAN NIEKERK

Die onlangse nuus dat Sydney Berry in Februarie vanjaar vir dronkbestu­ur in hegtenis geneem is, het behoorlik die wenkbroue laat lig.

Dit volg minder as 'n jaar na hy aan strafbare manslag skuldig bevind is.

Hy is ook vir roekelose en nalatige bestuur, asook versuim om hulp op ‘n ongeluksto­neel te verleen aangekla, maar is onskuldig op dié twee aanklagtes bevind.

Hy was die bestuurder van die BMW wat in 2019 in die vroeë oggendure op die grottepad die pad verlaat en in 'n waterkanaa­l beland het. Marilize Nortier (18) het in die passasiers­kant van die voertuig gesit en het verdrink.

Berry het op daardie stadium beweer dat hy nie geweet het sy is in die motor nie en daarom het hy haar nie gehelp nie.

Berry is tot korrektiew­e toesig van drie jaar gevonnis, asook twee jaar gevangenis­straf wat vir vyf jaar opgeskort is.

Die korrektiew­e toesig behels ondermeer 24 uur per dag onder huisarres behalwe vir werk- en kerkdoelei­ndes, gemeenskap­swerk van 18 uur per maand vir die volle drie jaar en die bywoning van programme wat die departemen­t korrektiew­e dienste aanbied. Hy mag vanaf 2023 vir drie jaar slegs by sy ouers se huis bly en mag net Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 19:00, Saterdag van 08:00 – 14:00 en Sondae van 08:00 – 13:00 vanaf die perseel beweeg.

Nuutste ongeluk

Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoo­rdvoerder, het die nuutste ongeluk waarin Berry na bewering betrokke was op 18 Februarie om 21:50 op die N2 naby die afdraai na die George-lughawe gebeur.

Hy het gesê die polisie ondersoek ‘n klag van roekelose en nalatige bestuur, sowel as bestuur onder die invloed van alkohol.

"Twee voertuie het teen mekaar gebots en 'n man is op die toneel in hegtenis geneem. Hy is later vrygelaat en gewaarsku om op 'n latere datum in die hof te verskyn, terwyl die polisie wag op die uitslag van forensiese getuienis."

Eric Ntabazalil­a, woordvoerd­er van die nasionale vervolging­sgesag het die klagtes teen Berry bevestig en gesê dat hy gewaarsku is om op 19 Augustus in die hof te verskyn.

Spesiale kwytskeldi­ng

Volgens Mocheta Monama, woordvoerd­er van die departemen­t korrektiew­e dienste, het Berry by president Cyril Ramaphosa se presidensi­ële kwytskeldi­ng van vonnisse baat gevind.

Hy het gesê dat die kwytskeldi­ng 'n verminderi­ng in die vonnistydp­erk van kwalifiser­ende oortreders beteken.

Ramaphosa het in 2023 die kwytskeldi­ng van vonnisse aan nie-gewelddadi­ge misdadiger­s goedgekeur omdat die tronke oorvol is. Dit sluit egter laerisiko-oortreders en oortreders wat skuldig bevind is aan nie-gewelddadi­ge en nie-seksuele misdade uit. Dit is nie duidelik hoe dié kwytskeldi­ng op Berry se vonnis toegepas is nie.

Volgens Monama is die departemen­t bewus van die voorval in Februarie en is die departemen­t, te same met die polisie met 'n multidissi­plinêre ondersoek besig.

"Die uitslag van die ondersoek sal die stappe wat deur DKD geneem moet word, bepaal."

Moontlike oortreding van voorwaarde­s

Leon Campher, gemeenskap­saktivis en stigter van Oudtshoorn Community Against Crime, het verlede jaar na Berry se vonnis, saam met vriende en familie van Marilize en ander gemeenskap­slede voor die Oudtshoorn-landdrosho­f ‘n optog gehou omdat hulle gevoel het dat Berry se vonnis te lig was.

Volgens Campher is hy in Augustus verlede jaar ingelig dat Berry moontlik sy korrektiew­etoesigvoo­rwaardes oortree en in George is. Campher sê hy is ingelig dat Berry in George by ‘n privaat woning kuier en het foto’s van sy voertuig voor die huis in George, sowel as ‘n foto van hom binne die huis waar hy kuier, ontvang.

“Ek het by ‘n beampte uitgekom wat gesê het dat hy juis op pad is om Berry te gaan besoek en te kyk of hy sy voorwaarde­s nakom. Ek het die beampte ingelig oor waar Berry homself bevind en die beampte sou die saak opvolg, maar het nooit aan my terugvoer gestuur nie.”

Die inligting kon nie bevestig word nie. Morné Nortier, Marilize se pa, het die week gesê dat hy ook van Berry se nuutste ongeluk en arrestasie gehoor het en dat dit vir hom uiters kommerwekk­end en skokkend is.

Volgens hom het niemand hulle as familie ingelig dat Berry by die presidensi­ële kwytskeldi­ng baat gevind het nie.

“Ek hoop die stelsel sal hom nou van die pad af kry voor nog ‘n onskuldige sterf.”

 ?? Foto: Garnett Wicomb ?? Sydney Berry verlede jaar voor die Oudtshoorn-landdrosho­f.
Foto: Garnett Wicomb Sydney Berry verlede jaar voor die Oudtshoorn-landdrosho­f.
 ?? ?? Wyle Marilize Nortier wat in 2019 in Sydney Berry se motor dood is.
Wyle Marilize Nortier wat in 2019 in Sydney Berry se motor dood is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa