Oudtshoorn Courant

Oudtshoorn­iet in Pick n Pay met verloofrin­g verras

- LIEZL VAN NIEKERK

Om verloof te raak is reeds 'n groot stap, maar om in 'n kruidenier­swinkel op jou knieë te gaan en voor almal die liefde van jou lewe te vra om te trou vat guts.

Dit is waarom Zelda Botha, 'n gebore en getoë Oudtshoorn­iet, nooit op Woensdag 1 Mei verwag het dat haar stil en teruggetro­kke, Albertus Geyser, haar daar sou vra om te trou nie.

Zelda het haar hele lewe in Oudtshoorn gewoon en haar familie en vriende is steeds hier, maar haar hart het punt getrek na Standerton, waar Albertus woon. Hulle is nou twee jaar in 'n verhouding en sy woon nou by hom.

Sy het vertel dat hulle op TikTok begin gesels het en later nommers geruil het en toe begin WhatsApp het.

"Wat my die meeste na hom toe aangetrek het was die feit dat hy nie vulgêr was en snaakse goed gevra of verwag het nie. Hy was van die begin af ordentlik en 'n regte gentleman. Ek kon praat met hom." Hulle het vir drie maande gesels en toe kom hy vir haar in Oudtshoorn kuier. Nie lank daarna nie het sy by hom gaan kuier.

"En toe is sy nooit weer hier weg nie," spot hy. Zelda en Albertus het die week aan Oudtshoorn Courant vertel dat hulle heeltemal oorweldig is deur die reaksie wat hulle op die video gekry het.

Voor die pasverloof­des hul oë kon uitvee het die video soos 'n veldbrand op sosiale media versprei en het die mense gegons oor waarom hy spesifiek Pick n Pay, en boonop nog, die rak waarin swembadgoe­dere staan, gekies het.

Albertus, 'n sagteware ontwikkela­ar, sê dat die antwoord hierop eintlik heel eenvoudig is.

"Ek is nie 'n ekstrovert nie en plaas nie regtig goed op sosiale media nie. Ek is meer 'n scroller en 'n nerd. Zelda het baie al gevra of ek skaam is vir haar omdat ek nooit foto's van ons deel en sulke goed nie. Hierdie was my poging om vir haar te wys hoe bitter lief ek haar het. Ek wou vir haar wys dat ek voor almal dit kan en wil wys en daarom het ek dit gedoen. Standerton is maar klein en ek moes 'n publieke plek kies wat sy nie sou verwag nie en ons gaan amper elke aand winkel toe om brood en goed te koop. Ek het geweet sy gaan nie dink dit is vreemd nie. Ek het haar oor die winkel se luidspreke­r gevra en wou so vinnig moontlik onder kom sodat ek vir haar op my knie kon wag en die swembadrak was die naaste. Dit is al hoekom ek daardie rak gekies het," lag hy.

Hy het dit 'n maand voor die tyd al beplan. Zelda het gedink dat hulle net winkel toe sou gaan, soos baie aande, om kruidenier­sware te koop en bestanddel­e vir 'n tert. Met eiers en suurlemoen­sap in haar hand het sy 'n bekende stem oor die luidspreke­r gehoor en skielik besef dat dit Albertus is. Haar verbasing was duidelik, maar sy het sy instruksie gevolg en hom in die swembadrak gaan soek waar hy op sy knie met 'n ring vir haar gewag het.

"Ek was so verras. Ek het dit nooit van hom verwag nie."

Volgens haar het hy vir haar verlede jaar 'n promise ring gegee en was dit hulle "verlowing".

"Ek wou nie hê hy moet baie geld op 'n ring spandeer nie, want die troue is duur genoeg en ek is in elk geval nie materialis­ties nie," vertel sy.

Zelda sê sy weet nou vir seker dat Albertus haar trouman is.

"Hy het regtig uit sy gemaksone beweeg vir my met die ene. Hy wys nie sommer die kant van hom vir ander mense nie. Ek het verlief geraak op die nerdkant van hom."

Albertus sê dit was haar spontanite­it en haar vermoë om hom op enige tyd lekker te laat lag wat hom na haar aangetrek het.

"Sy is 'n regte jokester. Ons het so 'n lekker verhouding waar ons met mekaar grappies kan maak. Ek kan nie wag om met haar te trou nie."

Die twee gaan op 21 Desember in Standerton trou.

 ?? Foto verskaf ?? Albertus Geyser en Zelda Botha.
Foto verskaf Albertus Geyser en Zelda Botha.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa