Suid-Kaap FORUM

Enkanini in sak en as na brand

- San-Marié Cronjé

KWANOKUTHU­LA Inwoners van Enkanini informele nedersetti­ng buite Riversdal, was in chaos gedompel nadat ’n brand omstreeks 14:00 Dinsdag 27 Maart begin het. Kwanokuthu­la, wat plek van stilte beteken, het vir ure in ’n plek van paniek, vrees en vlamme verander. Die vuur het baie vinnig versprei en meer as 20 huise vernietig. Van die gesinne het alles verloor en net die klere aan hul lyf oorgehou. Ander was meer gelukkig en kon hul huise betyds ontruim. Volgens van die inwoners het die vuur in ’n houthuis begin waarvan die inwoners nie tuis was nie. Hulle het die huis se deur oopgebreek en die vlamme tevergeefs probeer blus. Party sê die vuur het ontstaan as gevolg van ’n stoof wat aan was terwyl ander sê dit is deur ’n kortsluiti­ng veroorsaak. Die oorsaak van die brand word egter steeds ondersoek. Volwassene­s en kinders het rondgeskar­rel om mekaar se besittings te probeer red. Working on Fire (WoF) se personeel het van huis tot huis gehardloop en mense gewaarsku dat daar ’n brand is. Hulle het sover hulle kon die vuur probeer blus en gesorg dat die wat nog ’n laaste paar goedjies probeer gryp het, betyds uit die huis was. Die mense is steeds dakloos hoewel die munisipali­teit die Anna Lupini-saal vir hulle oopgestel het. Kospakkies is uitgedeel en baie mense het reeds skenkings gemaak. Die munisipali­teit en DA-raadslede het vir skenkings gevra om verligting te bring. Die ANC in die streek het gesê dat hy sy meegevoel aan die families van die mense wat hul huis deur die vuur verloor het, deel. Die ANC LPP vir Hessequa, Cameron Dugmore, wyksraadsl­id Elias Dayimani, asook plaaslike ANC-takbesture van Hessequa het hulle vriende op sosiale media genader vir hulp. Hulp het ingestroom na die plaaslike ANC parlementê­re kantoor op Riversdal. Die St. Andrews kerk het ook bydraes gemaak. “Dit is hartverske­urend om te sien hoe vinnig ’n brand kan uitbreek en hoe vinnig mense alles, hul hele lewe, net so kan verloor,” het Dugmore gesê. Die ANC doen ’n beroep op alle vrywillige­rs van die ANC en gemeenskap­slede om die Enkaninihu­ishoudings wat deur die brand geraak is te help. Dayimani kan gekontak word by 082 523 5596 of die plaaslike ANC parlementê­re kantoor by 028 713 3884 vir skenkings.

Volgens Chris Onrust, direkteur van gemeenskap­sdienste, beskik Hessequamu­nisipalite­it oor ’n nood- en rampfonds. “Hulpverlen­ing tot ’n maksimum van R3

000 word toegelaat ingevolge die beleid. Die geaffektee­rde persone het reeds aangedui wat hul noodsaakli­kste behoeftes is. Dit word nou deur die raad se behuisings­departemen­t koördineer.” Gemeenskap­slede en besighede is welkom om veral materiale soos sinkplate, hout, pale, planke en enige boumateria­al te skenk vir die heropboupr­oses. Die departemen­t kan geskakel word by 028 713 8015 in die verband.

 ?? Foto: San-Marié Cronjé ?? Hoewel hul voetjies brand loop kinders tussen die as rond op soek na enige iets wat nog bruikbaar is.
Foto: San-Marié Cronjé Hoewel hul voetjies brand loop kinders tussen die as rond op soek na enige iets wat nog bruikbaar is.
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa