Suid-Kaap FORUM

16 by tehuis het Covid-19

- Louise Karsten

"Ons kan net ons beste doen om die virus te probeer vermy, en ons hét ons beste gedoen," sê Amanda Prinsloo, bestuurder van die ACVV-tehuis, Onse Rus na altesaam 16 mense by die tehuis die afgelope naweek positief getoets het vir Covid-19.

Prinsloo sê 12 bejaarde inwoners en vier werknemers is positief getoets na 'n vroulike inwoner verlede week by 'n hospitaal op Mosselbaai vir Covid-19 getoets is nadat sy verdagte simptome gehad het.

Volgens Prinsloo het sy onmiddelli­k die hele Onse Rus se inwoners en werknemers vir Covid-19 laat toets. "Vrydag het ek die uitslae ontvang. Ons het dadelik twee sale in Covid-19-sale omskep en die inwoners wat positief getoets het daarheen verskuif waar hulle nou moet isoleer."

Die positiewe gevalle se kamers is ook ontsmet en Prinsloo sê slegs haar personeel wat bereid is om in die Covid-19-areas te werk, is daar in diens. "Die personeel wat nie daarvoor kans sien nie, werk in die res van die tehuis."

Prinsloo sê hulle het alle protokol gevolg. “Die bejaardes wat positief getoets het, het geen simptome gewys nie, maar intussen het van hulle simptome van Covid-19 getoon en van hulle het gekla van 'n droë hoes. Ons monitor die situasie en hou die familie op hoogte.

“Die hospitaal bel ons ook daagliks om te hoor hoe dit met die Covid-19-pasiënte gaan.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa