Modeltreine is sy hartklop
Vanaf sewejarige ouderdom was treine al wat Patrick Duddy vir verjaarsdae of Kersfees wou hê en as 14-jarige het hy vakansiewerk begin doen om sy eie treinstelle te kon koop.
Dit het egter net ‘n stokperdjie gebly, want as volwassene was hy, tot en met sy aftrede in 2006, in die boubedryf betrokke.
In Knysna, waar hy vir 35 jaar gewoon het, was hy ‘n stigterslid van die Knysna Society of Model Engineers en het hy drie modelstoomenjins besit. Een van hulle was ongeveer 25cm hoog, maar was sterk genoeg om ‘n volwassene en vyf kinders te trek. Die Society se modeltreinprojek is met die groot Knysna-brande van ‘n paar jaar gelede in so ‘n mate beskadig dat hulle na Rheenendal moes skuif, waar hulle steeds sekere Sondae hulle passie uitleef en treinritte aanbied.
Wonderland
In 2006 het Patrick Stilbaai toe verhuis en as afgetredene het hy hom hart en siel in sy stokperdjie ingeleef. Hy het ‘n vertrek in sy huis omskep in ‘n modeltrein-wonderland met spoorlyne, stasies, dorpies en natuurtonele. Dit het hom vyf jaar geneem sedert hy begin het tot waar hy vandag is en hy werk reeds aan nog ‘n toevoeging, wat ‘n strandemeer insluit.
Patrick het begin deur ‘n plan te teken van hoe die spore gaan lê. Voor hy die natuurtonele teen die mure geverf het, het hy drie aanlynkursusse in akrielverftegnieke gedoen. Hy het alles self gebou, behalwe natuurlik die treinstelle en die dennebome, wat ingevoer is. Vir die geboue en ander strukture, teken hy ‘n plan van ‘n foto af en sny dan die dele met ‘n lasersnymasjien, waarna hy die stukkies aanmekaarsit.
Die George-stasie en oorbrug het hom 300 uur geneem vandat hy die plan daarvan begin teken het, tot voltooiing. Die LEDliggies in die huise en geboue is net 1mm by 0.5mm en Patrick moes elkeen daarvan aan die draadjies soldeer. Vir die bome het hy spons in ‘n voedselverwerker fyngemaak en daarna die regte kleurskakerings met verf gekry. Die gras is van fyn houtsaagsels gemaak. Vir die rotse het hy silikoonvorms van klippe in sy tuin en die omgewing gemaak en dan met gips gevul.
Die vier lokomotiewe het elkeen ‘n klein ontvanger en kan dus onafhanklik beheer word vanaf die klein beheerpaneel, vanwaar selfs die wissels verander word. Asof dit nie genoeg is nie, is daar ook ‘n werkende mynskag wat op en af kan gaan. Die hele projek is op ‘n skaal van 1:160 en die detail is ongelooflik.
Dit is natuurlik ‘n duur stokperdjie. Een van die lokomotiewe op die spoor het R3 500 gekos, maar Patrick sê dit is alles die moeite werd en hy sal dit vir geen ander stokperdjie verruil nie.
Indien jy in modeltreine belangstel, kan jy baie inligting vanaf die internet verkry, maar kontak Patrick gerus (083 561 0924). Hy verhuis binnekort na ‘n aftreeoord waar hy heel moontlik nie die spasie gaan hê om sy passie verder uit te leef nie.