Bekende digter se vlam uitgedoof
Een van Stilbaai se bekendste inwoners, maar ook ‘n digter wat landswyd vir haar poësie bekendheid verwerf het, is op Dinsdag, 20 Julie oorlede.
Rosa Smit (75) het in 1989 met haar debuutbundel, Krone van die narsing die Ingrid Jonkerprys verwerf.
Smit was drie weke in die hospitaal met Covid-19, maar sy het herstel en is tuis deur haar lewensmaat, Jurgen van Zyl versorg. Haar longe was egter verswak en sy is vier dae later weer in die hospitaal opgeneem, waar sy oorlede is.
In haar vroeë 20s was Rosa ‘n Mej SuidAfrika-finalis. Sy bly ’n rukkie in Europa. Met haar terugkeer doen sy radiowerk en rig spreekkore vir skole af, terwyl sy ook haar eie kreatiewe skryfskool stig.
Uit belangstelling in die kunste, begin sy skilder en haar werk geniet groot aftrek. Van haar oliewerke is in verskeie huise regoor die land te vinde.
Haar openbare optredes sluit die voorlees van haar gedigte in. Sy tree ook as beoordelaar vir die digkunskompetisie van die webwerf Woes op.
Die twee genommerde afdelings van haar debuutbundel bevat onderskeidelik liefdesgedigte en religieuse gedigte en haar vindingryke gebruik van beelde val deurgaans op, terwyl veral die godsdienstige gedigte effektief is in die manier waarop menslike tydelikheid en nietigheid gekontrasteer word teen die almagtigheid en ewigheid van die goddelike.
Sy was ‘n wêreldreisiger en was lief om deur lande soos Frankryk en Duitsland te toer.
Later jare het sy Bybelstudiegroepe in verskeie provinsies gelei en sy het volgehoue navorsing oor Israel en die Woord van God gedoen. In Jerusalem het sy navorsing gedoen en op straathoeke gepreek. Sy het straatvroue ingeneem, hulle versorg en deur middel van haar lewenslus weer hoop gegee.
Volgens een van haar seuns, Emile, wat namens die famlie met gepraat het, was sy ‘n bron van lewe.
“En soos iemand grapperderwys gesê het: die hemel gaan nie weer dieselfde wees nie.”
Rosa het duisende vriende regoor die land gemaak.
Sy was by voedselskemas betrokke, het klere aan armes gegee en was selfs by dieremishandeling- en beskermingsgroepe betrokke.
“Selfs in tye wannner sy self swaargekry het, het sy maandeliks haar deel aan behoeftiges gegee,” het Emile gesê.
Suid-Kaap Forum
Bron van lewe ‘n Kort huldeblyk deur die familie
“Sy is die bron van hoop vir baie mense; sy is naïef in haar oortuiging dat die wêreld regverdig kan wees;
Sy baklei vir eenvoud, sy baklei vir familie waardes.
Sy is kompleks, meer so omdat sy so direk en vasbeslote is.
Haar algemene kennis, haar liefde vir mense en diere en haar onverskrokke liefde vir Jesus as haar verlosser laat haar die wêreld om haar aan die brand steek.
Haar kleinkinders; drie seuns en ‘n pragtige dogter leer by haar die wil om te leef, om te gee en om om te gee. Hulle leer by haar dat die lewe vir die gelowige ‘n lewe van oorvloed sal wees.
Sy is die steunpilaar van geloof. Sy ken pyn en daardeur is sy kreatief, ook kreatief in haar verhouding met mens en met God. Haar vlam brand helder oral waar sy was.” • Begrafnisreëlings was teen druktyd nie bekend nie.