Agterblad Riana Scheepers gesels
Kom sit langs Riana Scheepers se kuiertafel en laat sy jou vertel van die poësie wat gewone mense skep.
Belangrike skrywers... is nie die enigste wonderwerkers van die woord nie.
Ek hou so verskriklik baie van gewone mense. Gewone mense is nie aanstellerig nie en hulle dink ook nie dat hulle die kat se persoonlike snor is nie. Die lewe het my al geleer: Mense wat werklik rede het om ’n hoë dunk van hulself te hê omdat hulle presteer en groot hoogtes bereik het, juis hulle is nederig en beskeie en plat op die aarde. Hulle is, met ander woorde, gewone mense. Fantastiese mense.
Mense wat hul rykdom sommer net gekry het, sonder harde werk of vernuf, hulle wat teer op hul familie se aansien, dis gewoonlik hulle wat die grootste snobs is. Ek dink hulle moet die eensaamste mense op aarde wees, want niemand hou van ’n snob nie – nie eens ’n ander snob nie.
Belangrike skrywers het ook geen rede om hulle opstêrs te hou nie. Hulle is nie die enigste wonderwerkers van die woord nie. Dikwels hoor ek ’n gesprek en besef dan weer dat die mooiste en slimste goed deur gewone mense gesê word. Iemand het eendag van iemand, ’n treurige siel sonder enige lewensvreugde of drif, gesê: “Hy is dom gebore, het stom grootgeword en het niks bygeleer nie.” Ek dink nie Salomo kon dit beter verwoord nie.
’n Aforisme is ’n kort uitspraak wat dikwels grappig of absurd is, maar ’n diep waarheid of groot wysheid bevat. Dit is alledaagse, menslike waarhede. En gee dit genoeg tyd en genoeg monde wat dit kan oordra, dan word dit ’n spreekwoord. Soos die vrou wat diep gesug het en die tydlose waarheid geuiter het: “Children are a certain sorrow and an uncertain joy.” Dis naar, maar dis waar. My vriendin Margaret het dit nóg bondiger gestel: “Dis bleddie om ’n mammie te wees.”
My ouma Willemien was nie ’n geleerde vrou nie, maar sy was meesterlik in haar vermoë om ’n tafel te dek en mense te laat aansit by ’n koningsmaal. Dit was altyd eenvoudige, maar heerlike boerekos. Daarvoor is sy van alle kante geprys en het sy die komplimente stylvol ontvang. Maar sy was ook meester van ’n ander kunsvorm, sonder dat sy dit geweet het. Sy het aforismes geskep. Wanneer ons rumoerige, vrolike familie om daardie lang kuiertafels van haar gesit het en, gewoonlik ná ’n glasie wyn, ’n bietjie te uitbundig na haar sin geraak het, het sy ons só gekyk en gesê: “Die stemming styg, maar die peil daal.” Dit is ook sy wat die weergalose wysheid kwytgeraak het: “Hoe meer dinge jy het, hoe meer dinge het jy.” Ook ewe kort en bondig het sy gesê dat ’n mens nie jou tyd, en veral nie jou liefde, op ’n nuttelose persoon moet verkwis nie: “Eensaamheid is verkiesliker as die geselskap van ’n dwaas.” Hierdie waarheid het my al deur die diep dale van mislukte verhoudings gedra, lank nádat sy reeds dood is.
Ons het ’n ongetroude buurman gehad wat baie graag vir altyd in dié staat wou bly. Maar toe kom daar ’n nuwe onderwyseres op die dorp. Ons buurman begin so effens kuier. Nie te ernstig nie, maar darem net om te kyk hoe die waters roer. My ouma het dié meisiekind een kyk gegee en gesê: “As ’n vrou regtig ’n man wil hê, kan net die Here hom help.” Nodeloos om te sê, die buurman is nie meer ’n oujongkêrel nie.
Dr. Kyaciss Pfiell het op ’n keer gesê dat die foutiewe aanhaling van ’n aforisme dikwels ’n beter aforisme oplewer, maar dit is nie net waar van aforismes nie. Op ’n dag sit ek in my kombuis en kla oor al my werk en wat ek alles moet doen, hoofsaaklik vir ander mense. Waarop die wyse, wyse vrou in my kombuis, Katryntjie, vir my sê: “Maar my jinne, Mevrou, jy moenie toelaat dat jou talente so onder die maatemmer uitsteek nie!”
Poësie het baie vorme, onverwags ook in die mond van gewone mense. Luister maar na wat hulle sê. Dis die mooiste letterkunde.