Erfeniskos Altyd suurlemoen
Verlede maand het ons ons nuwe erfeniskosmedewerker, Karen Dudley van The Kitchen in Woodstock, voorgestel. Vir Valentynsmaand bak sy ’n verleidelike sesam-jogurt-kardemomkoek met ’n soet suurlemoenstroop.
Gedurende die Clinton-administrasie het ek en ander jong vroue van oor die hele wêreld in ’n geskiedkundige herehuis op die oewer van die Potomacrivier in Washington, net ’n klipgooi van die politieke harlaboerla van Capitol Hill af, gewerk.
Daar het ek “diensleierskap” geleer deur lakens in die kelderverdieping te stryk, marmervloere te poets, beddens op te maak en etes te bedien aan besoekende hooggeplaastes en staatshoofde wat in die biblioteek of die ontbytkamer kom asem skep, vredesamesprekings voer of net kom wegkruip het.
In die stilte van die uitgestrekte herehuis pak ek eendag ’n bordjie eetgoed vir ’n besoekende KGB-offisier, en daar ontdek ek toe die lekkerte van ’n suurlemoenblokkie. Dit was net ’n paar krummels, maar nog nooit het ek sulke perfeksie geproe nie: botter, meel, suiker en liggekaramelliseerde suurlemoen. Met my oë toe het ek my aan die saligheid oorgegee: koel, klewerig, soet – en deur en deur suurlemoen!
Daar en dan het ek besluit dat ek my nie meer met flou draadsit-geure gaan ophou nie. As ’n ding na suurlemoen moet proe, moet dit behoorlik suurlemoen wees – suurlemoensuur-en-soet!
Daar’s mos mense wat ’n suurlemoen met smaak net so sal eet; skyfie platgedruk tussen die tande in ’n oogknyp-uitbarsting van surigheid. (Jy het mos al die opgekreukelde gesiggie van ’n kind gesien wat die eerste keer met ’n suurlemoenskyfie kennis maak, dan nie?)
Maar vir die meeste van ons is suurlemoen ’n spanspeler. Wanneer hy nie onbeskaamd saam met sy sielsgenoot – suiker – pronk nie (dink maar aan sorbet en suurlemoenpoeding, suurlemoensmeer, suurlemoenmeringue), hou hy vir hom hanswors deur te bokspring deur ’n besadigder palet (daai skeutjie heldergeel suurlemoen oor vars vis).
Ander kere is suurlemoen die sopraan wat die melodie oor die dieper koorbegeleiding sing (risotto, pasta en lam).
Een van my geliefste suurlemoenensembles is die trio van pietersielie, suurlemoen en knoffel. My ma, Ruth, kon die wonderlikste osso bucco maak. Dan moes ek die suurlemoen (skoon), knoffel (helder) en pietersielie (vars) vir ’n gremolata-bolaag fynkap.
En is dít nou nie ’n openbaring en ’n getuigskrif van die verlossingskrag van die suurlemoen nie! Dis ’n vormgewende ervaring van hoe vars suurlemoen en pietersielie al die wonderbaarlike geure uit die vleis optower.
Maar as suurlemoen die slag opdaag sonder ’n metgesel – hoe delikaat ook al – is sy doppie geklink. G’n soet oester of aspersie nie, g’n sout of suiker om sy byt te versag nie!
Ons weet natuurlik dat die suurlemoen, benewens sy rits huishoudelike gebruike, ook keer dat avokado’s, appels en artisjokke verkleur. En die oordeelkundige gebruik van suurlemoenskil bly een van my gunstelingtruuks: dis onontbeerlik in krummels en frummels, dit kikker groente, sop en souse op, gee peulgroente woema en ontsluit die geure in die kos waarvoor ons lief is.
Dié koek is een van my grootste gunstelinge ooit. Dis heerlik saam met jogurt of mascarpone en vars vye.