Erfeniskos Die nederige aartappel
Dié maand onthul ons erfeniskosskrywer, Karen Dudley van The Kitchen in Woodstock, haar ware self en haar lewenslange liefdesverhouding met die veelsydigste groente van almal:
Toe ek my toekomstige skoonma se braaiaartappels die eerste keer by ’n Kersete proe, het ek geweet dis nou ’n ete waar ek elke jaar wil wees! Dit was gou duidelik dat dié aartappels ’n familietradisie is by die Mallinsons op Zeekoevlei.
My skoonma, Joan, en haar suster, Barbara, het dit saam berei. Eers is die aartappels halfgaar gekook en met ’n vurk geskraap, liggies met meel bestrooi en dan geduldig in ’n elektriese braaipan gebraai. En soos hulle daar in die bord gelê het met hul bros, goue randjies, kon g’n gerookte vark, kalkoen of vulsel kers vashou by dié perfekte halfrondes nie. Hemels!
Toe ek gretig teruggaan vir ’n tweede skeppie, sou ek tot my skok agterkom my toekomstige familie het net een aartappel vir elkeen voorsien (hulle sou dit nie “rantsoeneer” noem nie, daarvoor is hulle darem te gaaf)!
Hoewel my eie ma ’n talentvolle kok was, het sy nie ’n gevoel vir aartappels gehad nie. Maar by my skoonfamilie het ek my voor die hekke van aartappelsaligheid bevind – net om getempteer te word met ’n rantsoen!
Ek het besef ek sou my moes laat geld as ’n twee-aartappeleter – tradisie se voet!
Aartappels het nog altyd die manier gehad om my ware self uit te bring. By daardie Kerstafel moes ek bieg: Hoe lief ek ook al vir my nuwe familie was, kan hulle asseblief in die vervolg vir my tegemoetkom met ’n paar ekstra aartappels? Ek besef nou hoe ’n dapper, maar berekende kans ek gewaag het. Want dit het my nuwe familie iets van my ware passies gewys – en gesorg dat ek elke Kersfees ’n ordentlike porsie braaiaartappels op Zeekoevlei kry!
Wat is dit omtrent die nederige aartappel wat my lus so laat uithang? Die meeste mense het ’n ingeboude alarm wat sê: Dis nou genoeg. Maar sit ’n bord tjips voor my neer, en ek pen dadelik my gebied af, eet wat myne is en pik skelmpies uit die borde van my niksvermoedende tafelgenote.
My ouma se tuisgemaakte aartappelskyfies was waarskynlik die eerste legendariese slaptjips. Sy’t selfs ’n skyfiesnyer en ’n diepbraaimandjie gehad. En daar is mos iets onskuldigs aan tuisgemaakte tjips, dan nie?
Ek en my pa is nou al jare lank op soek na die beste slaptjips in Kaapstad. Toe ek jonger was, het ons die kafees, viswinkels, restaurante en padstalle oor die lengte en breedte van die Skiereiland verken – iets waaraan ek met hart en siel deelgeneem het!
Ons het als beredeneer: bros of slap; net gesout of deurdrenk met asyn. Daar op die bankies, rotse of kaaie het ons onsself verdiep in suiwer slaptjips-genot. Tot vandag toe is my pa se bynaam vir my “Chip”.
Terwyl ons gesin in die vroeë tagtigerjare met ’n motorwoonwa deur Europa gereis het, het ons in België die stoffasie van aartappellegendes teëgekom: pommes frites – in ’n keël met ’n ruim skep verruklike mayonnaise. So iets het ons nog nooit geproe nie! Natuurlik moes ons dit ook in Holland en Frankryk op die proef stel. Saam met die katedrale, museums en ander besienswaardighede was dit ’n belewenis!
Die louter veelsydigheid van aartappels en hul vermoë om geur te dra, weerspreek hul oënskynlik “nederige” status. Dalk lê hul ware karakter in hul gedienstigheid aan sous, botter en olie.
Dis dié sagaardigheid van aartappels waarvan ek so baie hou. Aartappels neem sous op soos g’n ander groente nie. Of dit nou asynerig of mayonnaise is, hulle bly die geurkampioene.