Karen Dudley se kosgedagtes
Een van die lekkertes van huis opsit is om mense te onthaal, sê ons kosskrywer, Karen Dudley van The Kitchen in Woodstock.
Daar was so te sê elke aand gaste by ons aan tafel – kuiermense of familie van oorsee, besoekende sendelinge, ou familievriende, my pa se kollegas, of jongmense vir wie my ouers onder hul vlerk geneem het. Dikwels was dit net ’n geval van ekstra plekke dek by ’n gesinsete, ander kere was dit partytjies en vieringe. En maak nie saak hoeveel mense genooi is nie, my mense het altyd op groot skaal onthaal en gekuier. Pa en Ma was (en is nog steeds op 76!) ’n gebore gasheer en gasvrou. Hulle was eenvoudig mal daaroor om “mense te kry”.
Destyds, sal jy onthou, het mense maklik “ingeloer” net omdat hulle toevallig in die buurt was of die jongste nuus wou verneem: “Ek kom net hoor hoe dit gaan ...” (Dis een plesiertjie wat sosiale media ons ontneem het). Dan het my ma gou iets aanmekaargeslaan saam met tee (skons, ’n lemoenkoek, fyn toebroodjies met die korsies afgesny) of in die stilligheid die aandete ge-“rek” dat daar genoeg sou wees vir almal wat saam met ons aansit – alles terwyl daar land en sand in die kombuis gesels is.
Maar as ons die dag geweet het ons kry gaste, moes elkeen sy kant bring. Sny die gras! Sit blomme in die badkamer! Haal uit die goeie eetstel! Versier die tafel (gelukkig altyd my werk). Maak iets lekkers vir ete! Sit die borde op die warmskinkbord! Hou iets te drinke reg vir wanneer die mense aankom. Pons, ja! En sorg vir genoeg ys. Laat die kleingoed eetgoed en drankies aandra. Sit vir ons plate op. Gaan haal uit die kroukie en laat almal saamspeel ...
Hoe ék gaste onthaal? Eers is daar sammajoor-bevele aan die troepe om op te ruim. Dan die logistiek: Het ons drankies? Kry ekstra ys! En ek erken: Ek kul ’n bietjie. As ek slim genoeg is, laat ek ’n vleisstuk lank en stadig in die oond rooster en sit dit voor met bykos en pikante ekstras (uit my restaurante). En ja, ek bestel ’n koek of koop van die beste roomys vir nagereg met ’n hoop bessies of mooi vrugteskyfies daarby. Ek koop graag kaas by die kaaswinkel, en hawer- of water beskuitjies, boegoe stroop, vars koffie, my gunsteling sjokolade, mooi loof, en die heerlikste Franse okkerneut-en-rosyntjiebrood. Intussen sorg my man vir die musieklys (met net soveel sorg as die ete saamgestel!). Onder ons gaste – gewoonlik uit verskeie kringe – sal party mekaar reeds ken, ander nie.
So wat is dit nou eintlik wat ’n partytjie besonders maak?
Dit help as die gasheer en gasvrou dit geniet. Wat beteken alles is klaar en gereed wanneer die gaste aankom en dis duidelik hulle kuier self ’n hond uit ’n bos uit. ’n Partytjie slaag gewoonlik wanneer al die gaste welkom en gemaklik voel – al die stres en spanning by die deur gelos en almal kom gesellig oor die weg. ’n Goeie partytjie is die natuurlike ineensmelting van lieflike mense en ’n aangename omgewing – die ruimte, die musiek, die kos. Die beste partytjies voel so ’n bietjie soos ’n vakansie, ’n wegbreek uit die alledaagse sleur.
Ja, ons doen party dinge anders as my ouers. Maar ek het sekere riglyne waarvolgens ek onthaal, en ek deel dit graag met jou. Ek en my broer het ongetwyfeld ons onthaalgene te danke aan die gul huis waarin ons grootgeword het. Maar dié gawe is nie moeilik om aan te leer nie. Dit begin met ’n ruim hart en word ruimskoots vergoed met die vreugde wat jy daaruit put wanneer jy ander bedien en deel wat jy het.
Dit bevestig ook ’n paar waardekeuses: Verhoudings is belangriker as materiële dinge. Gesels is beter as TV. Ons as gesin groei deur ander te eer.
Een van die lekkertes van huis opsit, is om mense in jou blyplek – hoe nederig of hoe deftig ook al – te kan onthaal. As ander mense dit geniet om saam in jou ruimte te kuier, verskaf dit vreugde sonder gelyke. En as die kos onvergeetlik lekker is ... nou ja, dan is jou partytjie ’n wenner.