Tropiese lushof
In harmonie met die voëls, ape en muishonde, en met ’n uitsig op die see ... Wat kan nader aan die paradys wees as so ’n wegbreekplek?
Die ou vissermanshuisie in Ballito, KwaZulu-Natal, het dalk nie ’n spoggerige baadjie soos baie ander huise in die omgewing nie, maar vir Aleksandra en Kevin Durrheim is dit hul stukkie paradys.
En dis letterlik wat dié vakansieplek op Willardsstrand is: Hul agterplaas is ’n subtropiese woud met verskeie voëls wat jou vroegdag wakker roep. “As jy lig slaap, drink jy al vyfuur soggens jou eerste koppie koffie,” lag Aleks.
Die kenmerkende roep van die bloukuifloerie is oral en as hulle opvlieg, sien jy net rooi – dis nogal iets om te aanskou. Maar solank dié skaam voëls stil op ’n tak sit, sien jy hulle skaars.
Anders as die groot kolonie muishonde wat hier ’n tuiste gevind het – dié is hans genoeg om die kombuis binne minute kaal te stroop as jy dit waag om die deur oop te los terwyl jy strand toe gaan! Om van die ape nie te praat nie …
Dis nogal ’n spektakel om te sien hoe die trop muishonde die pad versigtig oorsteek terwyl hulle seker maak die kleingoed is veilig aan hul sy. “Selfs ná 25 jaar in Suid-Afrika verwonder ek my steeds aan die palms, die voëls en ander dierelewe,” vertel Aleks, oorspronklik van Joegoe-Slawië.
Koop en regruk
Die Durrheims het Ballito die eerste keer in Mei 2011 saam met vriende besoek. Daardie jaar het hulle in dié einste huisie gebly wat, ondanks sy bekoring, maar erg verwaarloos was. Twee jaar later was die huis te koop, en het die egpaar die sprong gewaag.
Ballito is skaars ’n uur se ry van hul huis in Pietermaritzburg, en dus die perfekte naweek-wegbreekplek. Boonop kon hulle die huis verhuur vir ’n ekstra inkomste.
“Hoewel die dak en kombuis toe al opgeknap was, was die huis binne verdeel in ’n klomp klein vertrekkies onder ’n lae plafon,” vertel Aleks. “Ons het van die binnemure uitgebreek en die plafon uitgehaal om die dakbalke te ontbloot.
“Ons het ook al die nuwe, maar aardige, vloerteëls verwyder en die huis binne en buite wit geverf. Ek en my ma het een middag deurgery en die hele nag lank die kombuis se vloer in wit en swart blokke geverf!”
Aan die voorkant van die huis het die Durrheims stapeldeure laat aanbring vir ’n gesellige binne-buite-gevoel. Die dek is verleng en tot dieselfde vlak as die huis se vloer gelig. Nou is dié tweeslaapkamerseeplekkie reg vir vakansie hou enige tyd van die jaar. En as gaste kom kuier, kan daar maklik vier kinders in die TVkamer slaap. >>
Wit met titsels kleur
Hul huis in Pietermaritzburg is ’n statige 120 jaar oue Victoriaanse dame met hoë plafonne en Oregondennehoutvloere, -deure en -skuifraamvensters.
“Oor die jare het al die hout bietjie te veel geraak; ek het begin smag na ligter dekor en ’n tikkie speelsheid. Nou was my kans!” skerts Aleks.
Gewapen met wit verf en ’n kwas het sy eers die meubels onder hande geneem. Van die stukke het saam uit hul huis in Pietermaritzburg gekom, terwyl sy ander deur ’n skrynwerker laat maak het of by Maritzburg Auctioneers en Cannon & Cannon gekoop het. Vir aksente is helderpienk en -blou gebruik in die vorm van los matte, strooikussings en fotorame.
“Ek is mal oor my kombuisie en die sitkamer waar ek saam met vriendinne kan tee drink. Maar ek hou ook baie van ons slaapkamer. Dit het ’n lieflike see-uitsig en die geluid van die branders is so strelend.”
Hoewel hulle gereeld werk saambring see toe – Kevin is ’n professor en Aleks behartig werknemerplasings – bevind hulle hulle gou op die dek met ’n boek en ’n mojito, of kies Kevin en Shea koers strand toe om oesters te gaan uithaal …