Hoe meer siele, hoe meer vreugde
Die sjampanjeproppe gaan omtrent klap wanneer die Paterson-gesin hul eerste Nuwejaar op Struisbaai vier.
“Ek is witverskrik,” sê Bernice Paterson toe ons by haar en Gus se strandhuis met sy sjarmante vissershuisie-argitektuur, net ’n klipgooi van die see, instap.
En inderdaad – van die houtmeubels tot die latte-stoepdakke is wit geverf; ook die stoffeerwerk regdeur die huis is wit.
Die huis in die Langezandt-landgoed is nog ’n nuutjie; dis die Patersons se eerste Nuwejaar op die Overbergse kusdorp, sowat 220 km van hul Kaapse huis af. En Bernice, ’n fiksheidsinstrukteur, kannie wa gom die sjampanje proppe te laat klap nie.
“Ons het gereeld vakansietye hier by ons vriende Jan en Sandra Burger kom plak,” vertel Bernice. “In Desember 2013 het ons op die ingewing van die oomblik na ’n paar plekke gaan kyk en toe hierdie erf gekoop. Die bouwerk het ’n hele 14 maande geduur, en ons het eers in April 2015 ingetrek. Daardie eerste vakansie het hier al 12 mense geslaap, al was dinge nog halfklaar. Maar dit was sóóó lekker!”
Bernice het sy aan sy met die argitek Tom Viljoen gewerk om die huis te kry nes hulle dit wou hê. ’n Binne-buite-leefstyl met slaapplek vir báie mense was hoog op hul lys. En daarmee saam het twee groot stoepe gekom – een voor die leefvertrek en ’n onderdak braai stoep aan die onderpunt van die binnehof .“Ek het ’n paar idees uit vorige uitgawes van Tuis gekry, maar die honde het ook ’n groot rol gespeel. Die binnehof-uitleg en die breë trappe in die swembad is eintlik vir hulle,” lag Bernice. “Gus sê altyd in sy volgende lewe wil hy my hond wees!
“Ons het plaaslike kontrakteurs gebruik waar ons kon, en ek was regtig beïndruk met ons bouer, Duane Jantjies, en Jan Shepherd, wat al die vensters en hortjies gemaak het. As ek nou terugkyk, is daar niks wat ons anders sou doen nie. Gus voel net die ‘speelkamer’, waar ons branderplanke, vlieërplanke, roeiplanke en fietse gebêre word, kon maar groter gewees het. Ons is regte buitelugmense en dis wonderlik om skaars 3 minute se stap van die strand af te wees. Hier is so baie om te doen in die omgewing …” >>
Dekor vir ’n vissershuis en slaapplek vir Afrika
Hoewel Bernice en Gus se huis minder as 200 m2 groot is, is hier slaapplek vir 14 mense. “Of wag, 15 as ek die stoep se dagbed bytel, maar dis eintlik die honde s’n!” help Bernice haarself reg. Die huis het drie slaapkamers, maar daar is ook ’n solder met slaapplek vir vier, en twee losstaande kothuise, elk met sy eie bad- en slaapkamer (sien plan onder).
“Ek is mal oor die vissershuisiestyl met sy rietdak en latte-afdak. Die binnehof-uitleg met die twee kothuise werk perfek vir ons, want dis privaat en beskut teen die elemente. Selfs as die landgoed in die spitsseisoen uit sy nate bars, voel dit asof ons op ons eentjie hier kuier.”
Haar dekor komplementeer die visserboustyl, en Bernice het die balans tussen gemaklik, prakties en mooi net reg gekry. “My dekor het spontaan gebeur; ek het ’n paar kussings gemaak en gekoop waarvan ek hou. Verder verf ek ou meubels met krytverf. Met my bykomstighede wou ek die kleur van Struisbaai se see op ’n mooi dag vasvang. My palet is wit saam met sagte bloue en turkoois. Ek hou van MRP Home, maar koop ook by South Bound op Struisbaai en Suidpunt Potpourri op Agulhas.”
En ondanks al die wit, lééf en kuier hulle met oorgawe hier. “Niks is heilig nie, my goed kan maar gekrap en ingeleef word.”
Werk so met wit
Gebruik verskillende skakerings en kry inspirasie uit die natuur: ivoor, naaswit, songebleikte skulpe, sampioenkleure en uitgewaste linne. Sagte bloue en gryse komplementeer so ’n palet, terwyl groenigheid uit die tuin keer dat die vertrek steriel kyk.
Grasdakfeite
Werk so met wit
Kussings in helder aksentkleure soos rooi en blou wat tradisioneel in strandhuise gebruik word, staan mooi uit teen ’n wit agtergrond en skep hope persoonlikheid. Hanglanterns of lampe is nog ’n manier om kleur in te bring en atmosfeer te skep. Al die huise in Langezandt het grasdakke, daarom word oop vure glad nie toegelaat nie. Die braaiplekke is onder dak ingebou, en die kaggels is diep en het vonkvangers (’n vlekvryestaalplaat met gaatjies) – alles maatreëls wat keer dat vonke dak toe waai. Krane, sproeiers en brandkomberse moet tussen die dekriet geïnstalleer word. Onderhoud word gewoonlik jaarliks gedoen, en die gepleisterde dele van die dak word elke twee jaar opnuut waterbestand gemaak. Die dakke kry elke vyf jaar nuwe dekrietklossies omdat dekriet ’n natuurlike boumateriaal is wat uitdroog en krimp. “Jy betaal ’n ekstra versekeringspremie vir ’n grasdak,” sê Bernice, “maar dit het sy voordele. Dis ’n ekovriendelike boumateriaal wat goeie isolering bied. Ons huis is heerlik koel in die somer en warm in die winter. En dit skakel mooi in by die omgewing.”