Tuis

Rede vir opknap

-

Nadat hulle jare lank op hul pragtige, afgesonder­de gasteplaas in die Sederberge gewoon het, het Andrea en haar oorlede man, Moritz, na die sjarmante dorpie Stanford in die Overberg getrek. Hulle het die huis in Januarie 2013 gekoop – die onweerstaa­nbare knus atmosfeer het die besluit maklik gemaak.

“Ons het baie gou nuwe vriende gemaak, maar vinnig besef daar was nie plek om hulle te onthaal nie,” onthou Andrea, wat besluit het sy moes die stoep van 27 m2 oor die lengte van die huis langs verleng om ekstra leefruimte te skep.

Andrea het met plaaslike bouers en nutsmanne gewerk om haar visie ’n werklikhei­d te maak; sy kon ook die kennis en ervaring wat sy opgedoen het toe sy gastekothu­ise op hul plaas gebou het, inspan. “Ek was nog altyd lief vir die buitelewe. En ek vermoed omdat ek van Duitsland is, waardeer ek dit nog meer! Ons tuintjie is pragtig en privaat, so ek wou regtig ’n ruimte skep wat ons goed kon benut,” sê Andrea. Sy het besluit om die stoep te bedek sodat die meubels heeljaar buite kan staan; sy het ook al die slaapkamer­deure só ontwerp dat hulle op dié ruimte oopmaak.

“Dis net wonderlik om hier te onthaal. Volwassene­s en kinders vind altyd ’n plekkie om te kuier of rustig te lees,” sê Andrea. Sy het verskillen­de “vertrekke” in die oopplanrui­mte geskep; haar gunsteling is die deel met die dagbeddens. “Ek is dol daaroor om hier te kom sit met ’n boek en te sien hoe die kinders in die swembad baljaar. Dis ook hier waar ek vir hulle slaaptydst­ories onder die feeliggies lees.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa