Vis en tjips
Vis met ’n bros buitelagie en lekker bygoeters is my nuwe onthaalgunsteling vir enige tyd van die jaar. Beste van als? Oud en jonk geniet dit. Genoeg vir 6 Bereidingstyd: 20 minute Gaarmaaktyd: 15 minute
• gerasperde skil van 1 suurlemoen • 3ml elk Italiaanse kruiemengsel en mosterdpoeier • ’n knippie elk rooipeper en witpeper • 300ml bruismeel • 6 stukke stokvisfilet met vel aan* • 250ml karringmelk • olie vir vlakbraai
1 Meng die suurlemoenskil, kruie, peper en meel saam en geur goed met sout; keer uit in ’n vlak bak. Druk elke stuk vis droog met ’n lappie (kombuispapier is geneig om vas te sit) en “sleep” dit deur die karringmelk. Doop nou die vis in die meelmengsel en laat staan vir sowat 10 minute.
2 Verhit die olie in ’n pan oor matige hitte tot warm en braai die vis in sarsies vir ’n paar minute aan ’n kant tot goudbruin en bros. Onthou, vis neem nie lank om gaar te word nie en sal verder stoom terwyl dit staan – toets as jy onseker is. Sit warm voor met suurlemoenwiggies, tuisgemaakte tartaarsous en aartappel- of patattjips.
* Lang, dun stukke vis werk beter as kleiner, dik stukke. TUISGEMAAKTE TARTAARSOUS Meng 125 ml romerige mayonnaise, 125 ml suurroom, 1 fyngerasperde mediumgroot wortel, 3 opgekapte agurkies, 30 ml fyngekapte grasuie en 5 ml mosterd met ’n knippie vars knoffel en sowat 15 ml suurlemoensap. Rond af met sout en peper. Jy gaan jou vingers wil afeet! BROS GROENTEHAPPIES Sif 250 ml kekerertjiemeel, 10 ml bakpoeier, 3 ml fyn koljander en 3 ml fyn komyn, sout en peper na smaak saam. Klits nou geleidelik sowat 220 ml yskoue sodawater by om ’n gladde beslag te kry.
Doop blomkoolblomme, klein worteltjies, uieringe of enige groente waarvan jy hou in die beslag en diepbraai tot bros. Geur met sout en peper na smaak en sit voor met vars koljander. STEURGARNAALCHORIZO-EN-PATATKOEKIES Kook 300 g patat gaar, dreineer en druk dit baie fyn. Kap sowat 12 gaar
steurgarnale en 150 g gaar chorizo fyn en roer by. Geur met 3 gekapte sprietuie en sowat 30 ml vars koljander. Meng nou 1 eiergeel en sowat 60 ml meel by om ’n ferm mengsel te kry. Verdeel die mengsel in balletjies so groot soos ’n gholfbal en druk effens plat. Bedek met ’n lagie tuisgemaakte broodkrummels en vlakbraai versigtig tot goudbruin en gaar.
Wenk
Jy kan ook aartappel gebruik vir dié heerlike koekies. Dit gaan ’n fermer tekstuur lewer, daarom moet jy ’n bietjie minder meel gebruik. >>