Mielie-vetkoeke
Wanneer daar nie tyd is vir ’n vetkoek wat moet rys nie, is dié kitsweergawe ’n wenner. Maak 12 vetkoeke Bereidingstyd: 25 minute Gaarmaaktyd: 30 minute • 375ml koekmeel • 10ml bakpoeier • ’n groot knypie elk suiker en sout • 2 eiers • 180ml melk • 125ml gaar mieliepitte • olie vir braai VULSEL • 15ml olie 1 ui, gekap 400g maalvleis 1 knoffelhuisie, gekap 5ml fyn koljander 15ml kerriepoeier 30ml tamatie-en-rissiekonfyt 15ml asyn
1 Maak eers die vulsel Verhit die olie en braai die ui tot glansend. Voeg die maalvleis, knoffel en speserye by en braai tot goudbruin (breek die vleis deurgaans op met ’n spaan). Roer laaste die konfyt en asyn by. Voeg ’n skeutjie water by en bedek die pan. Laat prut oor lae hitte terwyl jy die vetkoek maak.
2 Meng die meel, bakpoeier, suiker en sout in ’n bak. Klits die eiers en melk saam en voeg dit by die droë bestanddele saam met die mieliepitte. Roer tot ’n dik, gladde beslag vorm.
3 Verhit sowat 2 cm olie in ’n pan (moenie te warm maak nie, anders brand die vetkoeke voor dit deurgebak is) en braai groot eetlepels vol van die mengsel in die olie tot goudbruin aan albei kante en deurgaar. Dreineer op kombuispapier.
4 Sny die vetkoeke oop en vul met die maalvleis. Hulle is natuurlik ook heerlik met kaas en konfyt of stroop.